
Die gemeenskap van Ebenhaeser het op 12 Desember ’n ooreenkoms met die staat onderteken waarvolgens die staat hul eis op 53 wingerdplase by Lutzville in die Wes-Kaap erken. Volgens die skikking moet die staat R350 miljoen bewillig om die eis te skik: R200 miljoen om grond te koop en R150 miljoen om die grond te ontwikkel. Dit is een van die grootste eise in die provinsie en het 18 jaar geneem om af te handel sedert die eis ingedien is.
’n Ontwikkelingsplan bepaal dat die geld vir die verkryging en ontwikkeling van grond in drie fases oor ’n tydperk van ses jaar beskikbaar gestel word. Die grootste deel sal vir ’n maatskappyboerdery gebruik word en sowat 20% vir kleinboere. Die eis is daarop gemik om ál die grond wat die gemeenskap voorheen besit het, terug te kry, aldus ’n mediavrystelling van die Legal Resources Centre (LRC) in Kaapstad.
Mnr. Peter Love, ’n gemeenskapsleier van Ebenhaeser, sê hulle is heeltemal tevrede. “Ons het gekry wat ons wou hê. Nou is daar nie meer omdraaikans nie.”
Lees ook:
Boere wil verkoop, maar Regering slaap
Die volgende stap is om die skikkingsooreenkoms teen 12 Februarie met ’n hofbevel te bekragtig, waarna hulle ’n trust moet stig en ’n implementeringsagent aanstel. Mnr. Bertie Conradie van die plaas Toekoms is een van ses boere wat onderneem het om sy grond gedurende die eerste fase te verkoop. Hy sê daar moet nog baie gebeur, maar hulle is verlig dat daar nou tekens is dat die proses na ’n kant toe gaan. "Onthou, die eise op ons grond is in 1997 al geregistreer en ons trek nou by 2014. Daar is groot frustrasie by grondeienaars. Van die ouer mense wat van die begin af wou verkoop en die grond as hul pensioen beskou het, kry swaar.
“Omdat daar eise op ons grond was, kon ons dit nie aan iemand anders verkoop nie, en was dit moeilik om vooruit te beplan met die swaard wat oor ons koppe hang. Emosioneel het dit 'n geweldige impak op ons.”
Die voortsetting van landbouproduksie op plase wat oorgedra gaan word, is van groot belang vir die gebied se ekonomie en welvaart, sê Conradie. Hy is ’n direkteur van Lutzville Wingerde, ’n wynkelder wat ’n groot deel van sy produksie uitvoer. Die 53 plase verskaf 12 000 ton wyndruiwe, ’n kwart van die 48 000 ton wat die kelder jaarliks verwerk. Heelparty van die boere op wie se plase eise is, produseer ook tamaties vir Tiger Brands se verwerkingsaanleg by Koekenaap. Daarbenewens is die gebied se geskikte en siektevrye klimaat gesog by plaaslike en internasionale saadmaatskappye vir saadvermeerdering.
Conradie sal behulpsaam wees met die ontwikkeling van die oorgedraagde grond en ook in ’n raadgewende hoedanigheid betrokke bly. Nie al 35 grondeienaars op die 53 plase is egter bereid om hul grond te verkoop nie. Een van die groep boere wat nie sy grond wil verkoop nie, sê die skikkingsooreenkoms wat op 12 Desember onderteken is, is tussen die eisers en die staat, en nie met grondeienaars nie. Hulle het ’n regsaksie aan die gang gesit en kan nie nou daarop kommentaar lewer nie.
Die gemeenskap van Ebenhaeser het in 1926 altesaam 3 485 ha “besonder vrugbare” grond op die oewer van die Olifantsrivier verloor ingevolge die Ebenhaeser (Vanrhynsdorp) Wet op die Ruil van Grond, Wet 14 van 1925. Van dié grond is 1 566 ha uitsluitlik aan witmense toegeken. In ruil daarvoor het die gemeenskap van Ebenhaeser 11 045 ha marginale grond sonder waterregte ontvang. Hoewel hulle 257 ha waterregte gekry het op die deel van die oewergrond wat hulle behou het, toon die LRC se navorsing dat die water deur boere hoër op opgebruik is voordat dit daar uitgekom het.