‘n Kontrak tussen die vrugtebedryf en Departement van Handel en Nywerheid is nooit deur die departement nagekom nie, aldus die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring het die party dié inligting bekom deur antwoorde wat mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, op ‘n vraag in die Parlement gegee het. Volgens die party kan ‘n sloerdery met die uitsortering van dié situasie skade doen aan die uitvoervolumes van die vrugtebedryf sowel as aan werkgeleenthede in die landbousektor.
Die kontrak vir Berlyn
Die Varsprodukte Uitvoerdersforum (FPEF) het aan die einde van verlede jaar ‘n kontrak met die departement aangegaan vir finansiering van Suid-Afrika se uitstalling by die 2012 Fruit Logistika-uitstalling wat in Berlyn, Duitsland, aangebied is.
Dié uitstalling is een van die belangrikste uitstallings vir die plaaslike bedryf, maar die departement het nie sy kontrak nagekom nie. Die party sê gevolglik het Suid-Afrika as ongeorganiseerd by die uitstalling voorgekom, wat afbreek gedoen het aan die bedryf se beeld.
Volgens die FPEF het die departement nie die ooreenkoms nagekom nie, en dit het nooit verduidelik waarom nie. Verder sê die FPEF het amptenare wat betrokke was, voorgekom asof hulle nie omgee oor die bekommernisse en klagtes hieroor nie.
Besluit om kontrak te onttrek
In Davies se antwoord word die skuld op die skouers van die FPEF gepak, deurdat die departement sê die nuwe vereistes vir finansiering is nie nagekom nie en is besluit om uit die ooreenkoms te onttrek.
Die party sê dit is duidelik dat grootskaalse gebrek aan kommunikasie tussen die twee entiteite bestaan, wat dringend opgelos moet word. Hy doen ‘n beroep op die departement om sy verhouding met dié organisasie en ander uitvoerrade as voorkeur te verklaar en te sorg dat hulle op goeie voet is.
Sowat 460 000 Suid-Afrikaners word jaarliks deur die bedryf van werk verskaf, en die bedryf verdien jaarliks sowat R12 miljard se buitelandse valuta met sy uitvoer na 70 lande.
4 Mei 2012