
Padgebruikers in die Oos-Kaap is in hul noppies nadat Regter J.M. Roberson in die Grahamstadse Hooggeregshof beslis het dat die Oos-Kaapse departement van provinsiale paaie en openbare werke binne 90 dae kontrakteurs moet identifiseer om sekere paaie in die provinsie te herstel.
Dié uitspraak volg na ’n regsgeding wat Agri Oos-Kaap twee jaar gelede teen die direkteur-generaal van paaie in die provinsie aanhangig gemaak het om dringende instandhoudingswerk aan paaie te maak.
Regter Roberson het in sy uitspraak onder meer beveel dat:
* Binne ses maande geïntegreerde roetine-onderhoud aan paaie gedoen word.
* Waar die departement nie die verskaffing van behoorlike interne herstel en instandhoudingsdienste kan bied nie, om diensooreenkomste binne ses maande met munisipaliteite of kontrakteurs aan te gaan.
* Om binne 90 dae van die hofbevel, volledige besonderhede te voorsien van die paaie wat herseël en gerehabiliteer moet word, en binne ses maande daarna met die herstelwerk te begin.
Lede van van Agri Oos-Kaap sal ook toegelaat word om volgens sekere voorwaardes kwotasies vir herstelwerk te bekom, magtiging te kry om die werk uit te voer en terugbetalings van die departement te eis.
Individuele boere
Soortgelyke prosedures sal ook geld waar individuele boere in noodgevalle herstelwerk aan paaie moet doen en die departement in gebreke bly om dit uit te voer.
Regter Roberson het gelas dat die departement die regskoste van Agri Oos-Kaap moet betaal en vóór 30 Mei ’n vorderingsverslag by die Hof indien oor die nakoming van die hofbevel.
Agri Oos-Kaap
Mnr. Doulas Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê hy is oorstelp van vreugde met uitspraak. “Dit beteken dat ons nou die werk vir regering kan doen en hulle ons daarvoor moet vergoed. Dit is ’n waterskeiding-uitspraak.”
Stern sê indien die departement met die verskoning kom dat hy nie geld in die begroting het nie, die LUR vir paaie in die provinsie verantwoordelik gehou word vir minagting van ’n hofbevel.