
Mnr. Connie Geldenhuys, regsverteenwoordiger van mnr. Roy Braithwaite, sê die mediaverklaring wat die departement hieroor uitgestuur het, het verskeie feitefoute bevat.
Landbouweekblad en Landbou.com het op grond van dié mediaverklaring verkeerdelik berig dat Braithwaite ’n boete moes betaal het.
Geldenhuys sê die 75-jarige Braithwaite, ’n afgetrede boer, woon in Howick en is sedert 2014 nie meer die eienaar van die betrokke grond in die Estcourt-omgewing nie. Die plaas, bekend as Redlands, behoort sedertdien aan The Redlands Farm Trust. Braithwaite is nie ’n trustee of begunstigde van die trust nie.
Geldenhuys, wat ook namens die trust optree, sê die trust het in 2016 aansoek gedoen om die uitbreiding van sy bestaande watergebruiksreg om water vir besproeiing aan die Wagendriftdam te onttrek.
Die trust moes teen groot koste drie konsultante aanstel om die aansoekdokumente op te stel en in te dien. Die verwerking van die aansoek het ses jaar gesloer. Die eerste keer dat die trust weer iets oor die aansoek gehoor het, was in Februarie vanjaar. “Daar is steeds foute op die lisensie wat uitgereik is en wat nog reggestel moet word,” sê Geldenhuys.
Die trust het op 24 November R1,777 miljoen aan die departement betaal nadat die partye deur bemiddeling ’n ooreenkoms bereik het. Die bedrag is gelykstaande aan die berekende koste van die bykomende water wat die trust van 2018 tot 2022 gebruik het. “Die departement het ontvangs erken, maar ons wag steeds op ’n faktuur,” het Geldenhuys op 15 Desember gesê.
As deel van die ooreenkoms het die staat die klag teen Braithwaite teruggetrek.