
Die staat gaan sy pogings verskerp om belasting in te stel op grond wat nie ten volle gebruik word nie as ’n instrument van grondhervorming. Dit kan ’n ander manier wees om boere te dwing om daardie grond op die mark te sit.
Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het die voorneme van so ’n belasting op sy lekgotla bespreek. Die lekgotla dien as rigtingwyser van die stappe wat die ANC en die regering in die jaar gaan onderneem.
Pres. Cyril Ramaphosa het gesê die proses van die gelyke herverdeling van grond moet versnel word en gepaard gaan met ondersteunende maatreëls om swart grondeienaars wat by groot- en kleinskaalse landboubedrywighede betrokke is, te help om suksesvol te wees.
“ ’n Gebalanseerde en doeltreffende proses van grondtransformasie moet nagejaag word sonder dat voedselsekerheid in gedrang gebring word. Grondhervormingsinstrumente moet insluit belasting vir ondergebruikte grond, verdigtingstrategieë en die oprigting van produksie- en kleinhandelsplekke in informele en formele nedersettings.”
Die lekgotla het die parlement versoek om die wysigingswetsontwerp op onteiening (B3 van 2020) te finaliseer sodat daar meer billike en regverdige toegang tot grond is.
Me. Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grond- en regsake, sê die benadering wat voorgestel word, klink sinvol, maar die kwessie oor grondbelasting is omstrede. Daar was al verskeie kere pogings in die verlede om grondbelasting in te stel bo en behalwe eiendomsbelasting. Eiendomsbelasting plaas reeds groot druk op produsente, veral in sommige distrikte waar dit baie hoog is.
Die Katz-kommissie het jare gelede ’n ondersoek gedoen na die werkbaarheid van die instel van grondbelasting. Uiteindelik is besluit om nie so ’n belasting in te stel nie. Die kommissie se verslag is in 1998 uitgereik.
Rakende die wysigings aan die Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975), sê Crosby dat dit reeds van 2008 af al kom en een of ander tyd afgehandel moet word. “Ons het ’n nuwe wet nodig, maar twee dinge wat groot kommer inhou, is die definisie van onteiening en artikel 12 (3) en (4), wat oor vergoeding handel, wat so wyd bewoord is.”
Kommissie se voorstelle
Die subkomitee van die Katz-kommissie het die moontlikheid van ’n nasionale belasting op spesifiek landbougrond ondersoek en die kommissie het op grond van sy bevindinge nie aanbeveel dat ’n nasionale grondbelasting op kort tot mediumtermyn ingestel moet word nie. Hy het egter aangedui dat daar tog wel voldoende bewyse is vir die toepassing van ’n landelike grondbelasting op plaaslike regeringsvlak, maar dat verdere ondersoek daaroor gedoen moes word om die meriete van grondbelasting op plaaslike vlak te bepaal sodat verseker word dat as so ’n belasting ingestel word, dit nie ongewenste verwringing meebring nie.
Kommissielede het in 1999, toe die parlement se portefeuljekomitee op finansies die agste tussentydse verslag bespreek het oor die implikasies van die instel van grondbelasting in Suid-Afrika, beduidende insette gelewer wat vandag steeds as geldig geag kan word.
Daar is uitgewys dat grondhervorming teen daardie tyd nie baie suksesvol was nie en om belasting vir grond te verhoog nie ’n effek op die prestasie van die grondhervormingsprogramme sal hê nie. Dit sal slegs grond beskikbaar maak.
Op ’n vraag of wat die siening is om miskien groter grondeienaars hoër belasting te vra as kleiner grondeienaars, is uitgewys dat die idee is om diegene wat nie hul grond gebruik nie te belas sodat hulle hul grond verkoop.