
Die staat het die afgelope geldjaar al R50 miljoen gespaar deur grond volgens die voorskrifte van die Grondwet te waardeer, het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aangedui.
Die land se eerste grondwaardeerder-generaal, mnr. Christopher Kobla Gavor, is verlede jaar aangestel nadat die Wet op Eiendomswaardering (Wet 17 van 2014) 1 Augustus 2015 in werking getree het. Die wet het dit moontlik gemaak vir die stigting van die kantoor van die grondwaardeerder-generaal. Dié kantoor se mandaat is om grond wat vir onteiening geoormerk is en vir grondhervorming uitgeken is, te waardeer.
Die Regering het aangevoer ’n waardeerder-generaal is noodsaaklik om te verseker dat grondpryse nie buitensporig verhoog word wanneer hy grond vir grondhervormingsdoeleindes aankoop nie.
Nkwinti het by die Parlement gesê dis juis omdat hulle vermoed het dat daar samespanning tussen amptenare van sy departement en ander is om grondpryse uitermatig te verhoog wanneer die regering aankope doen, dat die kantoor tot stand gebring is.
Die resultaat is na ’n jaar reeds sigbaar en die besparing beteken dat meer grond vir herverdeling en restitusie aangekoop kan word. “Ons doen ons bes om die rand te rek om meer geld te hê om meer grond te koop.”
Universiteite
Die grondwaardeerder-generaal maak nie net van markwaarde gebruik wanneer hy grond evalueer nie. Hy neem al die vyf faktore in ag wat in Artikel 25 (3) van die Grondwet uitgespel word vir die regverdige en billike vergoeding van grond, het Nkwinti gesê.
Die ander faktore, behalwe markwaarde, is die inagneming van hoe die eiendom tans gebruik word; die geskiedenis van hoe die eiendom bekom is; die omvang van regstreekse belegging en subsidie deur die staat ten opsigte van die verkryging en voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en die doel van die onteiening.
Dit was moeilik om ’n waardeerder te kry wat verstaan hoe grond volgens die Grondwet waardeer moet word, want Suid-Afrikaanse universiteite leer waardeerders net hoe om grond volgens markwaarde te waardeer, het Nkwinti bygevoeg.
“Een van die dinge wat ons vanweë die stig van die kantoor gevind het, is dat universiteite in Suid-Afrika nie hul kurrikulum verander het nie en daarom fokus waardeerders in Suid-Afrika net op markwaarde.” Gavor lei nou ander waardeerders op om al die faktore tydens waardering van eiendom in ag te neem.
Standaarde
Daar is ook gevind dat die land voorheen nie standaarde vir waardering gehad het nie. Gavor moes die internasionale standaarde vir die waardering van eiendom aanpas om standaarde vir die land op te stel. “Dit wys Suid-Afrika het institusionele probleme… die institusionele bagasie is steeds daar.”
Nkwinti het benadruk dat sy departement nog nie nodig gehad het om enige grond in die land te onteien nie.