Die minister en die departement van water en sanitasie het na dié hof geappelleer nadat die appèlhof ten gunste van landbouwatergebruikers beslis het dat hulle dit wel regmatig kan doen. Litigasie het begin tydens me. Lindiwe Sisulu se ampstermyn, en duur nou voort onder mnr. Senzo Mchunu.
Regters van die Grondwethof het op 25 Augustus, onder voorsitterskap van hoofregter Raymond Zondo, die partye se betoë aangehoor. Uitspraak is voorbehou. Die respondente in die saak is boere, boerdery-ondernemings en die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (Saafwua).
Aansoeke van die landboupartye om gebruiksregte oor te dra as voorwaarde vir transaksies om die regte te verkoop, is in 2018 deur die departement afgekeur. Die departement het voorheen, ingevolge die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998), sulke oordragte goedgekeur, maar vroeg in 2018 ’n omsendbrief uitgereik dat die wet dit nie toelaat nie.