
Die water waarna die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) verwys ten opsigte van besproeiingslandbou, bestaan nie. Projeksies daaroor in die plan is gegrond op totaal foutiewe inligting.
Dít was die reaksie van me. Isa Thompson, direkteur verantwoordelik vir waterbeplanning by die Departement van Water en Sanitasie in die Wes- en Oos-Kaap, op ’n vraag van Landbouweekblad oor die haalbaarheid om grond onder besproeiing met 500 000 ha uit te brei.
“Dit is iemand wat sy somme agterop ’n sigaretdosie gemaak het. Die beplanningskommissie het dit vir soetkoek opgeëet,” het sy op ’n gespreksgeleentheid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria gesê. “Daar is nog ruimte vir besproeiingsontwikkeling waar daar water beskikbaar is, soos by die Mzimvuburivier in die Oos-Kaap waar vrugbare grond is. Die reënval daar is egter hoog genoeg om besproeiing oorbodig te maak.”
Thompson sê plek-plek is daar nog water vir besproeiing beskikbaar, maar nie die hoeveelheid waarna die NOP verwys nie. Die departement se eie raming is sowat 80 000 ha.
Groot emmer
Oor vrese dat water van boere weggevat sal word om aan dorpe te gee, het Thompson gesê om aan ’n dorp met 1 000 gesinne water vir ’n jaar te verskaf, is omtrent gelykstaande aan een hektaar se besproeiingswater.
“Ons praat dus van druppels uit ’n baie groot emmer water wat boere het. Daarby sal dit nie net gevat word nie. Daar sal gevra word wie water kan afstaan en ’n boer sal dan vir die water vergoed word soos in ’n gewillige koper en gewillige verkoper-situasie.”
Mnr. Fred van Zyl, direkteur van strategiese beplanning by die department, sê daar moet “oopkop” na die landbou se situasie gekyk word. “Daar moet meer kos geproduseer word, maar in die eerste plek moet ook eers gesorg word dat water meer doeltreffend benut word. Daar is groot boere wat uiters doeltreffend met water werk. Studies toon byvoorbeeld as besproeiing in die Loskopvallei met 10% verminder word, dan kom 40% van werksgeleenthede daar in die gedrang.”
Vervalle
Hy sê daar is ander plekke waar verbeter kan word, soos watertoekennings op sowat 90 000 ha vervalle landbougrond wat beter benut kan word en toekennings by waterskemas wat nog nie opgeneem is nie. Hoewel waterskemas nog toekennings vir besproeiing maak, raak die water ál duurder.
Van Zyl, wat self ook boer, sê daar is ’n naïewe siening dat die landbou 60% van die water gebruik maar net 2,4% tot die ekonomie bydra. Mense kyk nie na die omvang van die hele waardeketting wat bykans 30% tot die BBP bydra en landbou se rol as werkskepper in die landelike gebiede nie.