Die Regering se agterbakse nasionalisering van grond is te sien in sy gesloer om transportaktes te gee vir 83% van die grond wat aan begunstigdes van grondhervorming oorgedra is, meen die DA.
Inligting oor die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se gesloer met titelaktes, het uitgekom in ‘n parlementêre vraag van die Demokratiese Alliansie (DA) aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Nkwinti het aangedui dat altesaam 1 841 aansoeke om huurkontrakte sedert 2006 ontvang is - met aanvang van die Regering se strategie vir grondverkryging (PLAS). Net 526 (28%) van dié aansoeke is toegestaan. Van dié huurkontrakte is 94 aansoeke om eiendomsbesit ontvang en slegs 16 huurbesit-kontrakte is omgeskakel in eiendomsbesit.
Me. Lindiwe Mazibuko, DA-LP, het uitgewys dat met die moratorium wat verlede jaar ingestel is op die toekenning van eiendomsreg onder PLAS, beteken dit dat die Regering ‘n aktiewe deelnemer in die kommersiële landbousektor geword het, terwyl swart begunstigdes net huurders is.
“Hierdie is nie ware grondhervorming nie, waar die doel is om volle titelakte aan grondeisers oor te dra. Dit het meer met agterbakse nasionalisering in gemeen,” meen Mazibuko. Die begunstigdes is net huurders op die grond en het geen aansporing om ‘n verbetering aan te bring nie.
‘Dis nie verbasend nie’
“Onder hierdie omstandighede is dit nie verbasend dat die ANC se grondhervormingsprojekte onproduktief is nie.”
Die betrokke huurders moet keer op keer vir huurkontrakte aansoek doen om hul bedrywighede voort kan te sit, totdat die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming besluit dat hulle bekwaam genoeg is om onafhanklik voort te gaan.
Mazibuko sê die ANC en sy vennote gebruik die grondkwessie in die land voortdurend as ‘n opflikkering vir die bevordering van sy rasistiese nasionalistiese agenda.
Die Regering weet nie hoeveel buitelanders grond in die land besit nie en Suid-Afrikaners weet ook nie hoeveel grond in die hande van die Regering is nie. Mazibuko het gesê dit is vir die DA onduidelik hoe die Staat kan aandui hoeveel grond hy wil bekom as hy nie eens weet hoeveel hy reeds besit nie.
“Hoewel ons die beginsel steun dat die Regering staatsgrond vir die doeleindes van grondhervorming aanwend, steun ons nie die departement se pogings om landelike ekonomiese werksaamhede rondom homself te sentraliseer nie deur grondhuurders, instede van grondbegunstigdes, te skep nie.”
13 Januarie 2011