Die Regering stel landboufinansiering nie vinnig genoeg beskikbaar nie.
Dít was een van die brandpunte tydens Vrydag se werksessie oor landboufinansiering. Dié dag is deur die Landboubesigheidskamer by sy hoofkantoor in die Graangebou in Pretoria aangebied.
Mnr. Andrew Makenete, hoof van strategie by die Land Bank, sê teen die tempo wat vloedsteun tans goedgekeur word, gaan dit hulle nooit betyds bereik nie. “Ons moet dinge vinniger laat gebeur. Ons sal moet kyk hoe ons met die private sektor kan skakel om kapasiteit uit te bou.”
Me. Jenetha Mahlangu, ’n afgevaardigde van die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery verantwoordelik vir finansiering, sê twee jaar gelede het die departement, met die samewerking van die regeringingsfinansierder, Khula, ’n model bekend gestel waarin die Regering en banke die risiko sou deel.
“Dié produk het nooit van die grond afgekom nie en boere het nooit gesê hoekom hulle dit nie gebruik het nie.”
Me. Simone Cooper, ’n senior bestuurder van korporatiewe besigheid by Standard Bank, sê dié geld het slegs na die finansieringsaspekte gekyk. “Die waardeketting moet in sulke sake in geheel beskou word.”
Die bedrag wat aan ’n boer geleen kon word, was ook nie lewensvatbaar nie, het Cooper verder gesê. Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, sê lewering is een van die grootste uitdagings. “As julle sê julle gaan op die derde dag uitbetaal, dan moet julle dit lewer.”
Mnr. George Mothoa, ’n amptenaar van Khula, sê die spesifieke produk word nou herbekyk in ’n poging om dit aantrekliker vir handelsbanke te maak.
18 April 2011