
Die South African Rare Game Breeders Holding (SARGBH) sal meer as 200 stuks wild wat die Noordwes-regering aan hom geskenk het én ook hulle nageslag moet terugbesorg.
Boonop sal me. Manketsi Tlhape, LUR vir landelike, omgewings- en landbou-ontwikkeling en ander amptenare betrokke by die transaksie, persoonlik vir die vrugtelose uitgawe van die verskuiwing van die diere verantwoordelik gehou word.
Dit is die oplossing waarop die Parlement se portefeuljekomitees vir omgewingsake en vir landbou besluit het, nadat wild “onwettig” aan die SARGBH geskenk is. Die Noordwesse departement van landelike, omgewing en landbou-ontwikkeling het die skenking gedoen op grond van ’n “wildskenkingsbeleid”. Dié beleid is opgestel, maar steeds nie goedgekeur nie.
Die opsteller van die beleid het volgehou dat die dokument, wat in 2010 ontwikkel was en aan die bewaringskomitee van die provinsie se Parke- en Toerismeraad voorgelê was, nooit amptelik goedgekeur was nie. Dit beteken dat enige transaksies wat onder die beleid gedoen is, onwettig is.
Skenking
Die departement het 130 buffels, 50 witrenosters, 50 swartwitpense en 32 nyalas ter waarde van meer as R100 miljoen, geskenk aan die SARGHB, waarvan sy stigters sterk bande met die ANC het. Met die skuif is twee regeringsparke, Molemane Eye-natuurreservaat en Borakalalo- wildreservaat, sonder “teelpotensiaal” gelaat toe al die buffelkoeie na die SARGBH oorgeplaas is.
Dit het ook uit ’n ondersoek na die transaksie geblyk dat die oorplasing van die wild reeds vanaf Julie 2015 begin het, terwyl die goedkeuring vir die skenking eers in Junie 2016 plaasgevind het. In Julie 2015 het die South African Game Breeders Association (SARGBA) ook ’n vennootskap en aandeelhoudingsooreenkoms met swart vennote gesluit om die SARGBH te vorm.
Die portefeuljekomitee onderneem om vas te stel of die wildplaaswerkers wat 50% van die besigheid besit van die aandeelhouding bewus is.
Mnr. Phillemon Mapulane, voorsitter van die portefeuljekomitee vir omgewingsake, het gesê die verslag wat die terugbesorging van die diere aanbeveel, sal deur die twee portefeuljekomitees goedgekeur moet word waarna dit by die Nasionale Vergadering ingedien sal word. Die komitee wil ook in die verslag voorstel dat SARGBH die diere binne drie maande moet terugbesorg.