
Baie statistiek in Suid-Afrika is nie betroubaar nie of ontbreek heeltemal, en die staat vra navorsers se hulp in dié verband.
Me. Tsakane Ngomani, ’n verteenwoordiger vir prestasiemonitering en evaluering in die Kantoor van die Presidensie, sê van die grootste tekortkominge bestaan ten opsigte van statistiek oor wanvoeding en uiterste armoede in die land.
Ngomani, ’n fasiliteerder in die Kantoor van die Presidensie het Maandag, (28 Mei 2012) tydens die stigting van die Instituut vir Voedsel, Voeding en Welstand dié versoek aan navorsers gerig om te help met die probleem. Die Instituut is by die Universiteit van Pretoria gestig in ’n poging om nuwe velde van navorsing ten opsigte van voedselsekerheid te verken.
“Daar is baie data in Suid-Afrika. Dit is ongelukkig wel teenstrydig en kredietwaardigheid is ’n kwessie,” verduidelik Ngomani. Volgens haar is die oordrag van grond aan voorheen benadeelde gemeenskappe en die transformasie van die landbousektor ook fokuspunte vir navorsing.
Betroubaar
Ngomani het tydens ’n paneelbespreking oor voedselsekerheid en beleidvorming gesê die instituut het die potensiaal om ’n betroubare en kredietwaardige bron van inligting oor die kwessies van armoede en voedselsekerheid te word.
Mnr. Niel Roux, hoofstatistikus van opnames oor ontwikkeling en uitkomste by Statistiek SA (SSA), het ook dié instansie se hulp met soortgelyke opnames en navorsing aangebied. Hy meen dat die instituut en die SSA goed sal kan saamwerk.
Die instituut sal dien as ’n virtuele platvorm vir kommunikasie en samewerking tussen 30 verskillende departemente en 100 navorsers aan die universiteit. Die instituut is die tweede in sy soort, maar dit beskik oor ’n groot groep kenners oor voedselsekerheid.
29 Mei 2012