
AfriForum Jeug het ’n dispuut met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye verklaar nadat dit aan die lig gekom het dat die staat die Landboukollege Grootfontein in die Oos-Kaap se taalbeleid vanaf 2016 wil verander. Die plan is om Afrikaans af te skaf en dit in 'n Engelse kollege te verander.
“Ons sal die beoogde verandering ten sterkste teenstaan. Ons het reeds met ons regspan vergader. Ons het in 'n skrywe ook 'n dringende vergadering met die departement versoek én dat geen verdere stappe geneem word totdat die dispuut nie opgelos is nie,” sê mnr. Henk Maree, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug in 'n nuusverklaring.
Dié jeugorganisasie se tak by die kollege het bykans 100 lede, wat sowat 50% van die totale studente-gemeenskap uitmaak.
“Ons gaan vandeesweek nog begin om 'n petisie onder studente te versprei wat hul steun en vraag na Afrikaans as onderrigtaal sal bevestig,” het Maree gesê.
Die departement het voorheen onderneem dat Afrikaans ’n primêre onderrigtaal sal bly en dat ’n scenario vermy sal word waar taal as ’n meganisme gebruik word om studente uit te sluit. Maree sê die departement tree nou in teenstelling met sy vroeër standpunte op.
“Ons wil net toesien dat die departement by sy aanvanklike beloftes bly.”