Die staat wil die grondeise-proses, waarvolgens swart families geldelike vergoeding of grond kan eis, heropen. Luidens ‘n berig op Fin24.com sê ‘n staatswoordvoerder hoewel 80 000 eise reeds afgehandel is, sal die Regering nou nuwe eise – insluitend dié van persone wie se voorvaders voor 1913 van hulle grond verwyder is – oorweeg word.
“Dit was onregverdig want baie grond is geneem selfs voor 1913”, aldus Mtobeli Mxotwa, woordvoerder vir die Ministerie van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Die proses word heropen om ‘n tweede kans te bied aan dié eisers wat die sperdatum van die eerste eise gemis het.
Langer as drie jaar
Mtobeli sê die nuwe periode behoort langer as drie jaar te duur sodat alle eise aandag kan geniet. Hy sê die volgende stap is om die kwessie na die kabinet te neem sodat dit voor die parlement kan kom, daarna sal ‘n nuwe wet saamgestel moet word, of die bestaande wet sal verander moet word.
Volgens die staat is daar baie mense wat gekla het dat hulle nie aan die aanvanklike sperdatum kon voldoen nie, want hulle was nie in die land nie of hulle is nie van die proses in kennis gestel nie.
Die aanvanklike eisperiode was van 1995 tot Desember 1998 en 74 808 van 79 696 eise is afgehandel.
Goedkoop stemwerfaksie
Intussen sê dr. Theo de Jager, die voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee, hy vermoed dié aankondiging is ‘n “goedkoop stemwerfaksie” met volgende week se munisipale verkiesings in die oog.
“Die 95% van die eise wat hulle sê reeds opgelos is, was die maklike eise. Die ander 5% is die moeilike eise wat baie administrasie verg”, aldus De Jager. Hy sê tans is daar 13 000 plase in die land waarop grondeise in die staatskoerant aangekondig is, en sommige van hulle wag al vir 11 jaar om van die staat te hoor.
“Sommige van die eisers het reeds van hulle plase weer in die mark gesit terwyl hulle nog nie al hulle grond ontvang het nie!”, merk De Jager op.
Wat eise voor 1913 aangaan sê De Jager: “Baie stamgeweld het voor daardie tyd plaasgevind waar stamme mekaar se grond gevat het. As hulle so aangaan, gaan die Boesmans dalk op die ou einde die hele land kan eis!”
Bron: Fin24.com
10 Mei 2011