
“ 'n Mens gaan nie met R2 000 per boer baie ver kom nie,” het mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA, as voorbeeld by die jaarlikse AVI Africa-pluimveekonferensie genoem.
Hy was onlangs by 'n vergadering by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye waar doelwitte uiteengesit is om 400 000 kleinskaalse boere te ontwikkel, met 'n begroting van slegs R800 miljoen. Dit beteken dat slegs R900 tot R2 000 per boer beskikbaar wees.
Dit terwyl die Regering onder meer kunsmis, saad en toerusting aan die boere wil voorsien. “Ons het 'n gekonsolideerde poging nodig,” het Van der Rheede verder gesê oor die gefragmenteerde benadering van die verskillende regeringsdepartemente wat betrokke is.
Nuwe groep boere
Hy het ook modelle gekritiseer waar met groepe nuwe boere gewerk word, omdat 'n gebrek aan leierskap dikwels voorkom en baie binnegevegte plaasvind. Waar die aandag op individue toegespits word, wat die nodige vaardighede het en bereid is om self 'n geldelike bydrae te maak, word baie sukses bereik.
Van der Rheede het gesê die Regering wil die mislukking van grondhervorming aan die beginsel van gewillige verkope en koper toeskryf, maar 4% tot 6% van plase kom jaarliks in die mark en tans is sowat 20 000 plase in die mark. Dit bewys daar is geen tekort aan gewillige verkopers nie. Alles kan egter nie net aan die staat oorgelaat word nie. Die private sektor kan 'n groot bydrae lewer, het Van der Rheede gesê.
Volgens navorsing wat Agri SA vroeër vanjaar gedoen het, is die private landbousektor reeds by die ontwikkeling van sowat 40 000 swart kommersiële boere betrokke, en dit moet volgens Van der Rheede uitgebrei word.
Lande waar sukses behaal is
In lande soos Japan, Korea en Taiwan, waar sukses met grondhervorming behaal is, is individuele eienaarskap vir begunstigdes ingespan. Hierteenoor is kommunale regte in Latyns-Amerikaanse lande gebruik, waar grondhervorming misluk het. In dié lande is ook nie goeie tegniese landbou-ondersteuning aan die begunstigdes nie.
Twee derdes van geld behoort eintlik vir dié steun te wees, het Van der Rheede gesê.
Boonop maak Suid-Afrika nou dieselfde foute as voor 1994. “Ons vertrou op ras-gegronde beleidsrigtings in die aanstelling van tegniese kundiges.”