
Mnr. Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV, sê Ramaphosa moet dié geleentheid gebruik om te sê of die regering van plan is om ’n paneel by die Wêreldhandelsorganisasie bymekaar te roep om uitspraak te lewer oor die dispuut wat verklaar is nadat die EU nuwe maatreëls teen valskodlingmot ingestel het.
Die SKV glo ’n paneel is die enigste opsie om die ongeregverdigde en diskriminerende regulasies te beëindig.
“Ons is dankbaar vir die steun wat die regering sover aan dié saak gegee het en verstaan dat daar die afgelope weke verskeie gesprekke tussen Suid-Afrikaanse beamptes en hul eweknieë in die EU was.
“Ten spyte van voldoende bewyse dat die nuwe regulasies nie met wetenskaplike bewyse strook nie, onnodig beperkend van aard is en indruis teen internasionale vereistes vir fitosanitêre handelsregulasies, weier die EU om toegewings te maak voor vanjaar se uitvoerseisoen wat in Maart begin.”
Nuwe regulasies
Die nuwe regulasies vereis dat lemoene wat na die EU uitgevoer word, vir 20 dae tot minder as 2 °C verkoel word. Om aan dié vereistes te voldoen, sal volgens Chadwick vanjaar R500 miljoen se koste en verlies in inkomste vir sitruskwekers tot gevolg hê en R1,4 miljard se belegging in koue-opbergingstegnologie en -kapasiteit vereis.
Dié bedrae is bykomend tot die R200 miljoen wat die bedryf verlede jaar moes bestee toe die nuwe regulasies in die middel van die uitvoerseisoen aangekondig is en grootskaalse ontwrigting van verskepings na die EU gevolg het.
“Die plaaslike bedryf het ’n uiters moeilike seisoen verlede jaar gehad met insetpryse en vervoerkoste wat aansienlik gestyg het, asook astronomiese prysstygings vir verskeping wat verdere druk op winsmarges geplaas het. Slegs een uit elke vyf boere het ’n wins gemaak.
“Indien die nuwe regulasies vanjaar toegepas word, sal verskeie kwekers en die werksgeleenthede wat hulle verskaf, waarskynlik nie oorleef nie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.