
Ditkan neusie verby wees met die oprigting van ’n beoogde etanol-aanleg by Bothaville in die Vrystaat as die Regering nie binne die volgende week of wat die nodige reguleringsekerheid gee nie, sê mnr. Zahir Williams, een van twee uitvoerende hoofde van Mabele Fuels.
Hy sê die belegging in die infrastruktuur vir die vervaardiging van biobrandstof is onmoontlik totdat die Regering sekerheid bied oor die subsidie vir die vervaardiging en die verkoopprys van biobrandstof.
“Die Mabele-brandstofprojek is onder groot druk. As die Departement van Energie nie reguleringsekerheid binne die volgende twee weke bied nie, loop die projek die gevaar om nie voort te gaan nie.” Boonop sal boere dan planne moet laat vaar om sorghum as grondstof te produseer.
Bouwerk aan die beoogde aanleg moes al op 1 Maart begin het sodat boere teen Oktober graansorghum kon plant om aan die nuwe aanleg te voorsien. Maar nou, vier maande later, is die reguleringsprysraamwerk nog nie afgekondig nie.
Dit is nie net belegging in infrastruktuur van miljarde wat verlore sal gaan nie, maar ook die goue geleentheid vir die land om die kwynende sorghumbedryf te laat herleef. Williams het aan Landbouweekblad gesê verdere vertragings met die reguleringsproses wat tot 2008 terugdateer, kan meebring dat R2,6 miljard aan belegging in die plaaslike ekonomie verlore kan gaan, asook 500 werkgeleenthede met die oprigting van die aanleg, en tot 18 000 nuwe werkgeleenthede ná die aanleg gebou is. Die verdubbeling van die sorghumbedryf, met die 400 000 ton graansorghum wat jaarliks produseer moet word, sal ook gekelder wees.
Mnr. Muzi Mkhize, hoofdirekteur vir petroleum- hidrokoolstof by die Departement van Energie, sê die prysraamwerk sal afgehandel word nadat me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Energie, die beleidskrif vir die reguleringsraamwerk vir biobrandstof gepubliseer het. Dié beleidsraamwerk ondergaan tans interne goedkeuring.
Mnr. Fanie Brink, raadgewer oor landbou en biobrandstof, meen egter planne vir Suid- Afrika se grootste bio-etanolaanleg is “kortsigtig” weens die verkeerde grondstof en verouderde tegnologie. Volgens hom is suikerriet en mielies die belangrikste grondstowwe vir die vervaardiging van bio-etanol. Sorghum word in Amerika op ’n beperkte skaal as grondstof gebruik waar die gewas op hoofsaaklik swaarder kleigrond goed gepresteer het.
Hy meen ook dat Mabele Fuels nie bio-etanol moet vervaardig nie, maar eerder bio-butanol wat twee bykomende koolstofmolekules bevat en daarom meer energie as bio-etanol verskaf.