
Pres. Jacob Zuma se uitsprake oor planne vir die landbou in die vorige Staatsrede was belowend, maar dit was uiteindelik leë beloftes wat boere al tot vervelens toe gehoor het, sê mnr. Hamlet Hlomendlini, senior ekonoom by Agri SA.
Zuma het in Februarie 2016 in sy Staatsrede onder meer verwys na vyf agriparke wat as belegging in die landbou-waardeketting gebou is, sowel as hulp wat tydens die droogte aan boere gebied is.
“Die Regering moet erken dat hy nie die beloftes nagekom het wat in 2015 en 2016 gemaak is oor die herlewing van die landbou nie,” sê Hlomendlini.
“Ongelukkig is daar steeds minimale belegging in die bedryf. Kleinboere sukkel steeds om toegang tot die waardeketting te kry en landbougemeenskappe word deur die een krisis ná die ander in die gesig gestaar. Eers was dit die droogte, nou kommandowurms.”
Droogtehulp
Hlomendlini is nie oortuig dat die droogtehulp wat in die vorige Staatsrede genoem is, ’n wesenlike verskil gemaak het nie. “Agri SA het gedurende die droogteperiode verskeie voorstelle gemaak oor wat gedoen moet word om die impak van die droogte te beperk. Geld is beskikbaar gestel vir sommige kleinboere. Sowat R224 miljoen is klaarblyklik ook beskikbaar gestel om boere te hulp te snel – of dié geld korrek aangewend is, is ’n heel ander debat.”
Dit blyk die Regering sien steeds nie die waarde van ’n gesonde landboubedryf nie.
“In die afgelope tien jaar het boere ’n netto belastingbydrae van R50 miljard gemaak, dit sê baie oor die belangrikheid van die bedryf in die ekonomie. Die Regering moet meer belê en ’n gunstige handelsomgewing skep. Dít sal boere help om mededingend te boer. Dit sal ekonomiese volhoubaarheid bevorder en werksgeleenthede skep.
“Die bedryf is in ’n moeilike siklus. Ten spyte daarvan dat die landbou die nodige hulpbronne het om te herstel, het dit steeds die Regering nodig om sy rol te vervul en te belê.”