Die Regering het R800 miljoen bewillig om gemeenskappe te help wat deur die onlangse vloede geraak is, het pres. Jacob Zuma in sy Staatsrede aangekondig.
Dit is veral landelike gemeenskappe langs die Vaal- en Benede-Oranjerivier wat erg deurgeloop het.
Dié geld bring egter nie ‘n uitkoms vir boere wie se infrastruktuur en gewasse deur die vloedwaters beskadig is nie.
Landbouweekblad verstaan dat boere as gemeenskapslede wel vir die geldelike hulp ingesluit is. Nie net geboue en infrastruktuur van boere is beskadig nie, maar ook gewasse.
Dit word gereken dat boere sowat R1 miljard se verlies aan landbouproduksie en ‘n bykomende R1 miljard skade aan landbou-infrastruktuur gely het.
Zuma het egter aangedui dat geld voortaan opsy gesit sal word vir die herstel na rampe en vir die herbouing na die tyd.
Werkskepping
Soos menige ontleders voorspel het, was werkskepping die kern van sy Staatsrede.
Die Regering gaan ‘n werksfonds van R9 miljard oor die volgende drie jaar skep om nuwe werkskeppinginisiatiewe te finansier.
Navorsing het uitgewys dat die Regering werk in ses gebiede kan skep. Dit is in die landbousektor, infrastruktuur-ontwikkeling, mynbou, vervaardiging, groen ekonomie en toerisme.
Zuma het gesê infrastruktuur sal ontwikkel word wat die landbousektor ‘n hupstoot sal gee en terselfdertyd werk sal skep.
“Wateropgaardamme, windmeule en besproeiingskemas sal rehabiliteer word. Gewasse, vee asook beweiding sal beskerm word deur die oprig van heinings.
“Hierdie projekte sal voedselsekuriteit bevorder en werkskeppingsgeleenthede vir menige, veral vroue in die landelike gebiede, bring.”
Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie het intussen R10 miljard oor die volgende vyf jaar uiteengesit vir belegging in dié ekonomiese aktiwiteite wat ‘n hoë potensiaal vir werkskepping het.
Zuma het verder R20 miljard se belastingverligting aangekondig om sodoende beleggings en ook uitbreidings en opgraderings in die mynbou te bevorder.
Vir ‘n projek om hiervoor te kwalifiseer moet daar ‘n minimumbelegging van R200 miljoen vir die nuwe projek wees en ‘n belegging van R30 miljoen vir uitbreiding en opgradering.
Dié program sal ‘n toelaag van tot R900 miljoen in aftrekbare belastingtoelaes vir nuwe beleggers toestaan en R550 miljoen vir opgradering en uitbreiding.
Basiese dienste
Oor die land se lewering van basiese dienste het hy uitgewys dat meer as 400 000 bykomende mense basiese watertoevoer gekry het. Vanjaar sal R2,6 miljard op waterdienste bestee word. Van die prioriteitsgebiede is Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Sowat 81% van die land is nou geëlektrifiseer. In 2000 was elektrifisering 63%.
Zuma het voorts aangedui dat daar met die Omvattende Program vir Landelike Ontwikkeling voortgegaan sal word waar grondhervormingsprojekte asook besproeiingskemas in die voormalige tuislandgebiede herleef word.
Daar sal ook voortgegaan word om steun te gee aan begunstigdes van grondhervorming wie se plase in die moeilikheid geraak het.
11 Februarie 2011