
Boere in Mpumalanga wie se grond aan plantasies van die Suid-Afrikaanse Bosboumaatskappy (Safcol) grens, het die afgelope drie dae gehelp om brande wat na bewering deur stakende werkers gestig is, te probeer blus.
Me. Lorraine Haig, wat voorheen tussen Witrivier en Sabie geboer het en van die boere verteenwoordig, sê hulle is baie bekommerd oor die situasie.
“Sodra die boere wil gaan help om die brande te blus, word brande weer as vergelding op húl grond gestig,” vertel ’n bekommerde Haig. “Genadiglik is dit windstil die afgelope drie dae en dis baie koud, maar as toestande verander, kan die hele gebied afbrand.”
Sy sê die boere vra dat die Polisie strenger moet optree om beweerde kwaaddoeners te stuit.
Loongeskil
Volgens Haig volg die staking op ’n loongeskil tussen Safcol en die werkers. Mnr. Lesley Modimele, woordvoerder vir Safcol, sê ’n geskil is verklaar toe werkers ’n 15%-verhoging geëis het en die maatskappy 8% aangebied het. Die geskil is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys.
Haig vertel dat van die werkers wat die beweerde brande begin, T-hemde dra waarop staan “minimum 12% of nóg brande.” eBlockwatch berig dat hulle glo ook al gesofistikeerde brandbestrydingskameras vernietig en kabels gesny het.
Modimele sê tot dusver is verskeie bewerings gemaak dat van die stakende werkers brande stig in die plantasies en op privaat grond, maar nog geen bewyse hiervan kon gevind word nie. Hy sê dit is tans brandseisoen, en dit is hoekom daar nog na niemand vingers gewys kon word nie.
Interdik
Modimele sê hulle is bewus van die bewerings dat van die lede van die Food and Allied Workers Union (Fawu) wat staak, helpers en vrywilligers geïntimideer en verhinder het om te help. Die maatskappy het Woensdagaand (4 Julie 2012) ’n dringende hofinterdik teen dié werkers gekry.
“Van vanoggend af kan ons sien dat die vrywilligers en boere weer kom help en ons kon vandag al verskeie van die brande onder beheer bring,” vertel Modimele.
Die interdik is van toepassing op al die maatskappy se plantasies, wat ook plantasies in Limpopo en KwaZulu-Natal insluit. Modimele sê die Polisie is ook betrokke om die situasie te help hanteer.
Onderhandelinge oor die loongeskil gaan voort.