
Die Robertson-botteleringsaanleg en die Commercial, Stevedoring, Agricultural and Allied Workers Union (CSAAWU) het vroeër vandeesmaand ’n skikking rondom betaling bereik. Die ooreenkoms beëindig ’n staking wat 13 weke geduur het.
Die ooreenkoms strek oor ’n tydperk van drie jaar en alle werknemers sal ’n salarisverhoging van 8% or R400 ontvang, afhangend van watter opsie die hoogste verhoging meebring, sê mnr. Anton Cilliers, Roberston-wynkelder se besturende direkteur.
“Die ooreenkoms maak voorsiening vir verhogings van die Verbruikersprysindeks plus 1,5% en 1% in onderskeidelik 2017 en 2018,” voeg hy by. “Ons glo die CSAAWU se deurlopende eis vir ’n 150%-verhoging is ongeloofwaardig en onmoontlik om te oorweeg. Ons bly egter verbind tot die algehele verbetering van ons werknemers se lewens.
“Vir dié rede sluit ons werksvoorwaardes steeds gratis mediese sorg vir alle werknemers, asook toegang tot behuisingslenings waar van toepassing in.”
“Ons spreek ons opregte dank uit teenoor al ons personeel, verbruikers, verskaffers, diensverskaffers en lede van die publiek vir hul lojale en onwrikbare ondersteuning gedurende ’n moeilike tydperk,”sê Cilliers.