
Die staking in die suikervervaardiging en –verwerking bedryf, wat al sedert 27 Mei die bedryf tot stilstand geruk het, blyk steeds sonder skikking te wees ná onderhandelinge op Maandag 2 Junie hervat is.
Volgens mnr. Barry Lane, voorsitter van die Suikervervaardiging en -Verwerking Werkgewersvereniging (SVVWV), staak bykans 5 000 werknemers, meestal in suikermeulens reg oor die land.
Die onderhandelinge tussen die SVVWV en die verskeie vakunies het skipbreuk gelei ná maande se onderhandelinge en ’n wettige protesaksie het gevolg. Net voor die staking het die bedryf ’n loonverhoging van 8,5% aangebied, terwyl die vakunies 9% eis.
“Ons glo ’n skikking sal spoedig bereik word tussen die SVVWV en die unies. Die 8,5%, wat regoor die spektrum ingestel sal word en vanaf 1 April ingestel sal word, is beduidend hoër as die nasionale 7,9% industriële skikkings-gemiddelde,” verduidelik Lane.
Landbouweekblad het verneem dat werkers van ’n suikermeule in KwaZulu-Natal erg geïntimideer word. Mnr. Vusi Xhoza, TSB Suiker se algemene bestuurder van korporatiewe sake, het bevestig dat meer as 50 ha suikerriet afgebrand is en ’n menigte strukture verniel is tydens protesoptredes.
Die onderhandelinge hervat op Donderdag, 5 Junie.