
Die staking deur vragmotorbestuurders raak ’n groot probleem vir die vervoer van varsprodukte van plase na varsprodukte markte en supermarkte.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle ontvang al hoe meer klagtes van boere wat met onafgelewerde varsprodukte op hulle plase sit.
“En soos julle weet, kan ’n mens die produkte net vir ’n paar dae lank in koelkamers hou voor dit begin afgaan. As die staking oor die naweek voortgaan, gaan die probleem baie groot raak,” aldus Möller. Veral groenteboere word nadelig geraak.
Handelaars waarsku oor voorraad
Intussen het Pick ’n Pay gewaarsku dat voorraad op sý rakke begin min raak weens die staking. Lede van die Suid-Afrikaanse vragmotorbestuurders en verwante werkers vakbond (SATAWU) staak al sowat twee weke, en verskeie voorvalle van geweld is landswyd al aangemeld.
Luidens ’n berig op Fin24.com sê die supermark die voorraad wat die meeste geraak word is varsprodukte en pluimvee. Sommige van die supermark se winkels in die middestad van Johannesburg het geen voorraad op hulle rakke nie, terwyl ander waarskuwings opgerig het om verbruikers te waarsku dat voorraad laag is.
Sommige van die bestuurders staak vir ’n salarisverhoging van 12%, terwyl van die werkgewers ’n verhoging van 8,5% vir volgende jaar en ’n verhoging van 0,5% vir die daaropvolgende jaar aanbied.
Bron: Fin24.com