
Werkers van die Normandien Boerdery naby Newcastle is al vir ses weke op ’n wettige staking omdat die eienaar van die plaas, mnr. Lawrence Hoatson, weier om die vakunie waarvan hulle skynbaar lede is, te erken.
“Die werkers is vry om lid van enige unie te wees, maar niks dwing my om daardie unie te erken nie. Hulle is dus op ’n wettige staking, maar ons werkverrigtinge gaan aan soos normaal, met tydelike werkers.
“Hierdie selfde Unie, Idawu, is ’n nuwe unie wat ek in my saagmeule op Newcastle erken het. Uit slegte vorige ervaringe, waar hierdie unie met staak-sertifikate by die saagmeule opgedaag het nog voordat ons met loon-onderhandelinge begin het, weier ek om hulle op die plaas te erken,” sê Hoatson.
Geskil oor beeste
Volgens die Witness is die werkers ontevrede oor beide die loon wat hulle betaal word en hul beeste wat Hoatson laat skut het. “Dit is twee onverwante sake. Die geskil oor die beeste kom al 12 jaar lank aan. Die aanvanklike ooreenkoms met die werkers op die plaas is dat hulle 60 beeste op ’n 100ha stuk grond mag aanhou. Uiteindelik was daar meer as 300 beeste op hierdie stuk grond. Ongeag talle hofbevele wat die Regering gedwing het om alternatiewe weiding vir die beeste te kry weens oorbeweiding, het niks gebeur nie.”
Tans is die staking in sy sesde week en die Departement Gemeenskapsveiligheid was op 11 April op die plaas om met die stakende werkers te vergader om ’n oplossing vir die geskil te vind. “Ek betaal meer as die minimumloon en hierdie is bloot ’n nuwe unie, wat my werkers wat nie wou staak nie, intimideer het. Die Unie wil ’n politieke standpunt probeer maak en dus weier ek om met hulle te skakel,” se Hoatson.