SA Stamboek gaan voortaan sy eie diere produksie-aantekening doen ná ongeveer 21 maande se samesprekings met die LNR op ‘n dooie punt uitgeloop het.
Dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder van SA Stamboek, sê in ‘n nuusverklaring dat die organisasie op versoek van die meerderheid van sy lede en deelnemers aan prestasie-aantekening, voortaan sy eie diere produksie-aantekening sal doen.
Van Rooyen sê die voortslepende dispuut tussen SA Stamboek en die Landbounavorsingsraad (LNR) oor die bestaan van ‘n gesamentlike ooreenkoms tussen die twee partye aangaande die bestuur en gebruik van die Intergis-stelsel, het ná ongeveer 21 maande se samesprekings en ‘n formele mediasieproses op ‘n dooie punt uitgeloop.
Intergis-stelsel verskuif
Die LNR volstaan by sy standpunt dat die gesamentlike ooreenkoms nie meer van krag is nie en dat hulle die Intergis-stelsel vanaf Stamboek se perseel, waar dit sedert sy begin bedryf is, gaan verskuif.
In ‘n finale reaksie op die saak, het Stamboek die LNR verwittig dat hy (die LNR) met hiérdie standpunt, die gesamentlike ooreenkoms gerepudieer het en dat Stamboek die repudiasie aanvaar en die ooreenkoms onmiddellik kanselleer.
“Die meerderheid van ons lede en deelnemers aan die bestaande diereverbeteringskemas, het aangedui dat daar met die implementering van ’n eie produksie-aantekeningstelsel voortgegaan moet word indien mediasie vir samewerking met die LNR nie slaag nie. Stamboek gaan nou onverwyld voort om ons eie produksie-aantekeningstelsel te implementeer,” aldus Van Rooyen.
“Die finansiële bestuur van die beoogde produksie-aantekeningstelsel sal in ‘n afsonderlike struktuur geadministreer word, maar die entiteit sal as een van die afdelings van Stamboek bedryf en bestuur word. Die voordele van hierdie inisiatief sluit onder andere in dat die deelnemende telers regstreeks betrokke sal wees by die ontwikkeling en implementering van die stelsel, volle eienaarskap sal hê en insette sal kan lewer oor die verdere ontwikkeling van die stelsel.
Meer winsgewend
“Die diens sal ‘n eenstop, koste-doeltreffende diere produksie-aantekeningstelsel wees en sal daarop fokus om produsente met kundigheid en inligting te bemagtig om hul besigheid meer winsgewend te bedryf. Verder sal daarop gefokus word om professionele kapasiteit binne die bedryf te behou en verder uit te bou.”
Van Rooyen sê groot opgewondenheid heers oor nuwe geleenthede en deure wat skielik van oral oopgaan. Die bedryf is gereed om hierdie geleenthede aan te gryp om veeboerdery na nuwe hoogtes van koste-doeltreffende produksie en volhoubaarheid te voer.
Meer besonderhede sal op Stamboek se Algemene Jaarvergadering op 19 Oktober 2011 bekend gemaak word.
Van Rooyen sê Stamboek verseker die bedryf dat alle data en die verwerking daarvan veilig is en dat datahantering soos altyd sal voortgaan.
Stamboek is steeds bereid is om te alle tye met die departement, die LNR of enige ander instansie saam te werk ten opsigte van diereverbetering in belang van Suid-Afrika se veebedryf.
13 Oktober 2011