Suid-Afrika se suiweluitvoer groei strek met uitvoer wat vir die eerste keer in twee en ’n half jaar hoër is as invoer, sê die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Luidens ’n mediaverklaring is die land tans weer ’n netto uitvoerder van suiwel, met ’n skerp toename in die uitvoer van “langlewe”-melk en jogurt. Afrikalande bly die grootste invoerders van plaaslike suiwelprodukte.
Die organisasie verwag dat die land se totale melkproduksievanjaar hoër sal wees as verlede jaar. In die eerste kwartaal van die jaar is sowat 2,8% meer melk geproduseer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Maart vanjaar se produksie was ook sowat 5,4% hoër as dié van Maart verlede jaar. ’n Skerp toename in die nasionale en internasionale vraag sal plaaslike voorrade onder druk plaas.
Volgens die MPO is nog verhogings in produsentepryse sedert sy vorige markverslag aangekondig, maar die organisasie verwag nie dat dít tot verhoogde produksie in die winter sal lei nie.
Voorspelling
Die MPO verwag dat produkpryse internasionaal in die komende maande sywaarts gaan beweeg, of selfs effens kan daal. Die hoë produksie en daling in vraag het tans 'n negatiewe effek op produkpryse in ontwikkelde lande. Die vraag in ontwikkelende lande het ook verlangsaam.
Uitvoer sal na verwagting op hoë vlakke bly, veral aangesien Europa se opgebergde voorrade op baie lae vlakke is. Hoewel onsekerheid oor die globale finansiële situasie steeds voorkom, sê die MPO die hoër vraag in China sal die verlaagde vraag in Europa mekaar in ewewig bring en moontlik tot verhoogde uitvoer lei.
In Suid-Afrika word druk op voorrade verwag, veral aangesien die vraag stelselmatig toeneem terwyl hoë koste produksie beperk.
21 Mei 2012