
In die 2016/’17-finansiële jaar is 357 bevestigde plaasaanvalle en 74 plaasmoorde aangemeld – ’n kommerwekkende toename in moorde in vergelyking met die vorige finansiële jaar se 49 moorde.
Hierdie statistiek is deur die burgerregte-organisasie AfriForum se navorsingsinstituut (ANI) bekend gemaak. Die tydperk van die syfers is van kalenderjare na finansiële jare verander om dit voortaan met die polisie se jaarlikse misdaadstatistiek te kna vergelyk.
Voor die bekendmaking op 26 April is met ’n konvooi voertuie na die Uniegebou gery waar ’n petisie met 175 000 handtekeninge teen plaasmoorde aan die Presidensie oorhandig is.
Waarsku oor frekwensie
Me. Lorraine Claasen, misdaadontleder by die ANI, het gewaarsku as die frekwensie van plaasaanvalle en-moorde deur die 2017 kalenderjaar dieselfde bly, daar ’n verdere toename gaan wees. Tot dusver in 2017 was daar 113 aanvalle en 29 bevestigde plaasmoorde.
“Dit is van uiterste belang dat alle mense in landelike gebiede hul veiligheid opskerp. Ons moedig mense aan om betrokke te raak by sekuriteitsnetwerke in hul omgewing. Dit is ook noodsaaklik om dit vir aanvallers so moeilik as moontlik te maak om toegang tot hul wonings te verkry,” het sy gesê.