
Die Departement van Waterwese en Sanitasie het in 'n verklaring mense langs die Nuwejaarspruit en Wilgerivier in die Vrystaat gevra om nie dié water onwettig te onttrek of af te keer nie.
Die water word in die Nuwejaarspruit losgelaat, wat later by die Wilgerivier aansluit.
Voor die loslating het die departement boere langs die Wilgerivier gevra om pompe, lewende hawe en boerderytoerusting te verwyder.
Volgens die departement word water só losgelaat dat daar nie oorstromings sal wees nie. Die loslating sal na verwagting 54 dae duur, tot einde Desember.
Geleidelik verhoog
Water is aanvanklik teen 20 kubieke meter per sekonde losgelaat en die hoeveelheid word geleidelik verhoog sodat dit teen begin Desember 70 kubieke meter per sekonde sal wees.
Daarna sal dit weer geleidelik verminder word tot 20 kubieke meter per sekonde teen einde Desember.
Die departement het op die loslating besluit omdat die Vaaldam vroeg in November weens die droogte en verdamping slegs 26,6% vol was, die laagste vlak nog. Die Vaaldam voorsien sowat 12 miljoen mense en nywerhede van water.
Die departement sê hoewel die loslating 'n mate van stabiliteit vir die Vaaldam sal meebring, is die droogte nog 'n werklikheid en is dit steeds nodig om water te spaar.