Agri SA steun me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, se visie dat “ons meer water beskikbaar moet stel vir ekonomiese groei en werkskepping”.
Luidens ’n verklaring het die minister dié opmerking die afgelope week tydens haar begrotingsrede in die Parlement gemaak.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê derhalwe is hulle bekommerd oor die feit dat die departement sommige besproeiingsboere verbied om waterregte vryelik oor te dra.
Möller sê bestaande, wettige watergebruik vir besproeiingsdoeleindes moet geoptimaliseer word en tot sy volle ekonomiese waarde aangewend word.
Wet verkeerd toegepas
Möller sê hulle meen die wet word tans verkeerd toegepas. “Hierdie praktyk beperk die ekonomiese potensiaal van waterhulpbronne tot nadeel van die doelstellings van die nuwe groei-inisitaief (New Growth Path), ’n aangeleentheid wat ons dringend met die minister moet bespreek.”
Hy het die departement wel geluk gewens met sy pogings om watervoorsiening aan die besproeiingsektor te verhoog, deur byvoorbeeld die verhoging van die Tzaneen-damwal en die voltooiing van die De Hoop-dam in die nabye toekoms. Agri SA steun ook die departement se pogings om onwettige waterverbruik te voorkom.
Opkomende boere
Volgens Möller wil hulle ook ’n bydrae lewer ten opsigte van opkomende besproeiingsboere. Ongebruikte besproeiingsgrond van ongeveer 90 000 ha is tans beskikbaar en geoormerk vir gebruik deur opkomende boere.
“Agri SA wil graag aan die departement sy samewerking bied om hierdie geleentheid saam met opkomende boere te ontwikkel op ’n kontraktuele of aandeelhouer-basis. Ons kan beslis ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die bemagtiging van opkomende boere, en terselfdertyd voedelsekerheid en werkskepping bevorder.”
21 April 2011