Die wetsontwerp vir ‘n onafhanklike direktoraat van ondersoeke vir die Polisie word vanuit landboukringe ondersteun, sê Agri SA.
Die wetsontwerp behoort binnekort in die Parlement ter tafel gelê word.
Luidens die organisasie se nuusbrief sal die direktoraat die Onafhanklike Klagtedirektoraat (OKD) wat tans bestaan vervang. Mnr. Kobus Visser, direkteur van korporatiewe skakeling by Agri SA, sê dat die wetsontwerp beoog om die naam van die OKD na die “Direktoraat” te verander.
“Die grondrede agter die naamverandering is om die direktoraat te posisioneer as ‘n liggaam wat onafhanklik van die Polisiediens funksioneer en wat sal fokus op ondersoeke na oortredings deur lede van die Polisie, eerder as om slegs klagtes te ontvang. Die Direktoraat sal onafhanklik toesig hou oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en munisipale polisiedienste,” verduidelik Visser.
Besluite by landelike misdaadkonferensie
Agri SA het in Februarie vanjaar ‘n landelike misdaadkonferensie in Centurion aangebied, waar mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, ook teenwoordig was. Tydens die konferensie is verskeie sake, waaronder die Polisie se verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf, bespreek.
Een van die besluite wat geneem is, is dat die Polisie vir die veiligheid van alle lede van die publiek en hul eiendom verantwoordelik is. Hulle moet wet en orde handhaaf en ‘n bekwame, nie-rassistiese diens verskaf.
Volgens dié besluit moet daar ook doelgerigte optrede wees om korrupte elemente in die Polisiemag uit te skakel en dat lede wat hulle aan enige oortredings skuldig maak, tot verantwoording geroep moet word.
Visser sê vanuit die oogpunt van dié besluit steun hulle die stigting van so ‘n direktoraat.
3 September 2010