Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het sy steun toegesê aan mnr. Johan Rupert se veldtog teen Shell se soektog na gas in die Karoo.
Luidens ‘n berig in Rapport (30 Januarie) is dié sakeman vasbeslote om nie die gebied en sy waterbronne te laat besoedel nie. “Ek het in my lewe nog nooit ’n geveg begin of uitgelok nie – nie in die sakewêreld of op die sportveld nie – maar ’n mens kan nie buite die gebeure bly as jy weet ’n onreg word gepleeg nie,” aldus Rupert.
Die oliemaatskappy het Vrydagaand (28 Januarie) met die gemeenskap van Graaff-Reinet vergader om hul beplande projek te bespreek, waartydens Rupert te kenne gegee het dat hy en sy familie tot aan die einde van die stryd sal toetree om die omgewing te beskerm.
1960’s gevind
Die oliereus wil oor ‘n reusagtige gebied vir gas soek, na tekens van gas in die 1960’s glo daar gevind is. Die gas is wel nie vroeër ontgin nie aangesien dit nie ekonomies sou wees nie.
Die vertrouensverhouding tussen die maatskappy en die gemeenskap het na bewering reeds skade gely nadat die vulstasie op die dorp vergroot is, terwyl die maatskappy vroeër glo onderneem het om dit nie te doen nie.
‘n Tweede Sishen
Mnr. Jaco Mulder, die party se woordvoerder vir water en omgewingsake, sê indien die maatskappy toegelaat sou word om met sy beplande bedrywighede voort te gaan, kan ‘n soortgelyke situasie soos wat by Sishen ontstaan het, voorkom. Dit is: Die water in die omgewing kan letterlik opgebruik word en onherstelbare skade kan aan die omgewing en landbou-aktiwiteite aanrig word.
“Die VF Plus is nie gekant teen ontginning en ontwikkeling nie, maar is van mening dat te veel eksplorasie-lisensies tot dusver onoordeelkundig deur die Regering toegestaan is en dat 'n meer omvattende impakstudie gedoen moet word,” sê Mulder.
Hy doen ‘n beroep op die publiek en gemeenskappe in die onmiddellike omgewing om mede-verantwoordelikheid te neem en dié tipe aksies te stuit.
1 Februarie 2011