
Bees- en skaapvleispryse het die afgelope twaalf maande met baie meer as die inflasiekoers gestyg en ’n ekonoom verwag dat dit soos altyd in die Kerstyd nog verder sal verstewig.
Mnr. Paul Makube, landbou-ekonoom van FNB, sê in die vorige Kersvakansie het pryse selfs in Januarie nog stewig gebly, maar weens stram ekonomiese omstandighede verwag hy nie dieselfde neiging in Januarie 2015 nie.
Die produsenteprys vir klas A-lamsvleis beloop nou R53,36/kg, wat 28% meer is as ‘n jaar gelede. Klas A-kontraklamsvleis het met 23% tot R52,76/kg gestyg en skaapvleispryse met 29% tot R41,79/kg.
Makube sê speenlammers se pryse het die grootste deel van die lente weens knap voorraad ook opwaarts geneig en is nou teen R25,67/kg 19% hoër.
“Droë weersomstandighede laat in 2012 en in 2013 het produsente gedwing om meer diere te slag, wat tot laer pryse gelei het. Hierdie situasie het egter laat in die somer van 2013 verbeter, wat goeie herstel van weiding meegebring het. Produsente het daarom hul voorraad teruggehou, wat tot tot ‘n laer aanbod gelei het.
“Die 2014/’15-seisoen het ’n stadige afskop gehad, met droë tye in die lente, maar reën het toe in al die produserende gebiede geval en weidingsgroei bevorder.”
Mnr. John Durr, Wes-Kaapse voorsitter van die RPO, sê daar is ‘n groeiende besef dat skaap- en lamsvleisproduksie in die algemeen onder druk is, veral weens probleemdiere en veediefstal.
Laasgenoemde laat boere die bedryf verlaat, veral diegene wat intensiewe skaapboerderye rondom stede bedryf het.
Hy sê boere verloor tot 40% weens probleemdiere en dit is baie belangrik dat die oorblywende boere hierdie persentasie afbring en terselfdertyd ook lam- en speenpersentasies verhoog.
Makube sê huishoudings se ekonomiese vooruitsigte lyk weens arbeidskwessies, kragprobleme, regeringskuld en werkloosheid nie goed nie. Die middelklas sal egter bly sorg vir groei in die vraag na bees- en skaapvleis.
Produsentepryse vir klas A-beesvleis is nou teen R34,19/kg op ‘n jaargrondslag 17% hoër, kontrak klas A-vleis is teen R34,56/kg 15% hoër en klas C-vleis teen R27,49/kg 9% hoër.
Makube sê die laer mieliepryse het die vraag na speenkalwers verhoog en so die prys opgestoot tot die huidige R21,38/kg, wat 26% hoër is as ‘n jaar gelede.
Mnr. Matthew Karan van Karan Beef sê die duurder speenkalwerpryse kan tot hoër beesvleispryse lei wanneer hierdie diere se vleis teen Maart 2015 bemark word. Hy verwag nie vanjaar groot stygings in pryse in die Kerstyd nie.