
Vir die eerste keer gaan twee vroue die DA in die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye verteenwoordig.
Die uitgesproke me. Annette Steyn het haar posisie as skaduminister vir die portefeulje behou. Haar adjunk is die voormalige joernalis en koerantredakteur by Media24, me. Zelda Jongbloed. Jongbloed was 46ste op die DA se nasionale kandidatelys met Steyn 47ste.
Steyn sê sy voel geeërd dat die party haar weer die taak gegee het. “Die landbou is ’n groot verantwoordelikheid. Dis is in die verlede baie afgeskeep en ek dink nie die ANC besef hoe belangrik is die portefeulje nie.”
Veral Steyn en die afgetrede LP van die ANC, mnr. Salam Abram, het baie met die voormalige Minister, Tina Joemat-Pettersson, vasgesit oor landboukwessies.
“Ek sal hard werk om met die nuwe minister en adjunkminister saam te werk. Dit was tot nadeel van die landbou dat ek en die vorige minister nie kon saamwerk nie.”
Steyn sê die landbou is nie ’n portefeulje waar politiek ’n rol moet speel nie. “Dit is een waar saamgewerk moet word sodat voedelsekerheid verseker word. Ek sal my bes probeer om alle uitstaande kwessies wat aandag moet geniet onder komitee se aandag te bring.”
Steyn sien ook daarna uit om weer met die landbouleiers saam te werk en met diegene kennis te maak wat sy nog nie ontmoet het nie.
Mnr. Mmusi Maimane, die DA se parlementêre leier, het by die aankondiging van sy skadukabinet gesê dat hulle korrupsie sal beveg en ’n voorstaander van beleid sal wees wat werk sal skep. “Alles wat ons doen, sal gefokus wees om die ekonomie te laat groei en meer werk te skep,” het Maimane gesê.