
Die 11de Agri-vooruitskouingkonferensie (AMT) het op ’n hoë noot begin met eiers wat stukkend gegooi is om standpunte te staaf.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, het Dinsdag (13 September 2011) eiers gebruik om aan afgevaardigdes te verduidelik hoe kwesbaar die samelewing tans is.
Hy het sy toespraak afgesluit deur ’n eier teen die muur stukkend te gooi om te illustreer, “wanneer ons so gegly het dat die kohesie in die land gebreek is, kan ons dit nie terugkry nie.”
Kritiek teen staat
Steytler het die staat skerp gekritiseer wat, volgens Vrystaat Landbou, inwoners aan die Lesothogrens versaak het. “Dit is hoekom ons hof toe gaan, want misdadigers tree op asof hulle nie vervolg gaan word nie.”
Wat grondhervorming, die groenskrif en die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper betref, sê Steytler hulle het die hulp van adv. George Bizos ingeroep om VL en die landbou by te staan. Bizos het ’n brief aan die organisasie geskryf waarin hy beklemtoon dat eienaarskap volgens die Grondwet beskerm moet word, en hy steun dit.
Vrye mark en leierskap
Steytler sê hy is bekommerd daaroor dat die prys van voedsel in die land drasties gestyg het, maar die belangrikheid van die vryemarkstelsel moet nie vergeet word nie. “Bekostigbare voedsel sal deur geen ander stelsel as die vrye mark op die tafel geplaas kan word nie.”
Om dié punt te staaf, het Steytler ’n Big Mac-burger van die MacDonald’s-groep omhoog gehou. Hy sê ’n paar jaar gelede was Suid-Afrika se Big Mac op twee na die goedkoopste ter wêreld, en tans is dit 15de op dié lys.
Hy sê die land het ook ’n dringende behoefte aan leierskap. “’n Vakuum bestaan waarbinne individue die samelewing uitmekaar trek.” Hy het bygevoeg: “Ek sal julle graag wil waarsku, enigeen wat wil inmeng met die uitvoering van die Grondwet en die vrye mark speel met die toekoms en die behoud van die samelewing.”
13 September 2011