
Gelukkig kan die goggatjies wat sowat 8 mm groot is, geen gewasskade veroorsaak nie, maar het hulle ingewriemel waar ook al moontlik, veral in deurkosyne en vensterrame, tot groot “griltenis” van die inwoners wat gif gespuit het dat die wolke so staan.
Me. Marietjie Strydom van Vryburg sê hulle weet al die goggatjies maak so een keer per jaar hul verskyning wanneer hulle hitte soek. “Maar dit was vanjaar baie erg. My mure was oortrek. Ek het maar die ligte afgesit sover moontlik om hulle nie te lok nie.”
Me. Esti Fourie en haar gesin boer tussen Stella en Piet Plessis in Noordwes. Sy sê sy het hordes van die goggatjies op haar wasgoed gehad. “Daar het swerms verby ons gevlieg en hulle het oral ingeklim. Soos die sprinkane. Dit was nog nooit so erg soos vanjaar nie.”
Dr. Schalk Schoeman, entomoloog by die makadamia-kwekersvereniging van Suid-Afrika (Samac) sê die klein groen goggatjies is van die genus Piezodoris. Hulle is bekend daarvoor dat hulle in hordes voorkom.
“ ’n Paar jaar gelede, ook die tyd van die jaar, het ’n magdom goggatjies in die makadamiaboorde in die Laeveld ingetrek. Die boere was histeries, maar daar was gelukkig geen kommersiële skade nie, want hul bekke is te kort om deur die doppe van die neute te dring.”
Hy sê die groter stinkgoggas veroorsaak jaarliks skade van meer as R100 miljoen aan makadamianeute.
Schoeman sê meer navorsing oor die goggatjies is nodig. Tans is dit amper onmoontlik om te bepaal presies wanneer uitbrekings gaan voorkom en hoe lank hul lewensiklus is.
“Ek vermoed hulle soek nou plek om te oorwinter, soos wat kakkerlakke maak. Hulle soek plekke waar hul bors en rug aan ’n oppervlak kan raak en dan raak hulle rustig. Hulle sal daar bly vir die winter totdat dit weer warmer is. Dit verklaar hoekom mense so baie van hulle sien op deurkosyne en vensterrame,” sê Schoeman.
Hy vermoed die nat somerseisoen was die oorsaak van die groot uitbreking.
Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder by Croplife SA, sê sedert daar so baie reën begin val het, het die insekbevolking ontplof. “Ons sien goggas wat ons 30 jaar laas gesien het, soos die groot larwe van die patatadder en groen druiwewurms.”
Schoeman sê dis nie nodig om gif te spuit nie. Die stinkgoggas sal ’n week of twee in die veld wees en dan weer aanbeweeg. Dan sal dit jare wees voordat daar so ’n groot uitbreking is.
“Maar ek besef so iets in jou huis is nie aangenaam nie. Daarvoor is enige gif met peretroïd ideaal. Namibië kry ook gereeld van die uitbrekings. Ons was een jaar in Sossusvlei met vakansie en kon dit nie waag om ’n lig aan te sit nie, want dan was alles toe onder die groen goggatjies.”
Hy vermoed dat hulle dalk soos besies van kleur verander om aan te pas by die seisoen. Hoewel hulle heldergroen is, is van die goggatjies se doppies besig om te verbruin, wat daarop dui dat hulle gereed maak vir die winter.
Buiten die heldergroen kleur is die stinkgoggastjies natuurlik ook bekend vir die skerp reuk wat hulle afskei wanneer hulle bedreig word of doodgaan. Inwoners van Noordwes sê daar is oliekolletjies oral waar die dooie goggatjies lê of waar op hulle getrap is.
“Dis weens die jodiumagtige stof wat hulle afskei. As jy dit op jou hande kry, sal dit geel raak. Ek het een jaar daarvan in my oë gekry. My mensdom dít was seer. My oë het ’n week lank gebrand en was bloedrooi,” vertel Schoeman.
’n Inwoner van Stella vertel dat hul hoenders wat vry rondloop, gemaai het onder die goggas.
Schoeman sê dit maak sin aangesien die goggatjies hoë proteïenvlakke het en goeie hoenderkos sal wees.