Die stof het nog nie gaan lê oor die doeltreffendheid van diatome vir die beheer van parasiete by diere nie.
Landbouweekblad het ’n beswaar vanuit die diatomebedryf ontvang oor ’n onlangse artikel oor ’n wetenskaplike proef om te bepaal of diatome, ’n tipe eensellige dierafsetting, wurmgetalle by vee kan beheer.
Die bevinding was dat daar, met die uitsondering van een geleentheid, geen statisties betekenisvolle verskil was tussen die kontrolegroep en ’n groep skape wat diatome saam met hul voer ontvang het nie.
Loodsproef
’n Beswaarmaker sê die proef het nie ten doel gehad om wetenskaplik te bewys of diatome werk of nie, maar was ’n loodsproef om te bepaal of daar substansie is, en indien wel, ’n vollediger proef te doen, wat toe wel te Warden geloods is.
Ná die eerste jaar van die Warden-proef het diatomiet se effektiwiteite as ’n ontwurmingsmiddel positiewe resultate opgelewer, soos gerapporteer in die 17 Oktober 2008 uitgawe van Landbouweekblad.
Daar heers tans onsekerheid by die betrokke partye wat die uitslag van die tweede jaar se resultate was en word dit deur Landbouweekblad ondersoek. Daar is ook na buitelandse proewe verwys.
Potensiaal
Een daarvan was op melkbeeste by die Clemson Universiteit in Amerika, wat getoon het diatome in ’n rantsoen die potensiaal het om as alternatief vir chemiese wurmmiddels gebruik te word.
’n Tweede bron oor ’n proef met lêhenne by die Universiteit van British Colombia in Kanada het ook bevind hoenders wat diatome gevoer is, het beduidend swaarder geword, meer eiers gelê en meer voer gevreet.
’n Derde bron waarna Landbouweekblad verwys het, gaan oor dieselfde proef. Dr. Hinner Köster, direkteur van Animate Animal Health, sê die proef onder begeleiding van onder meer dr. Jan van Wyk van die fakulteit veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria waarna in die artikel verwys word, is slegs een proef, en meer proewe moes uitgevoer word voordat negatiewe stellings gemaak is.
Derde behandeling
Hy is ten gunste van ’n derde behandeling: ’n Groep skape wat chemiese wurmmiddels kry. Dit sou aandui dat minstens een van die behandelings wel positief gereageer het en dat die resultate tussen die diatome en kontrole nie toevallig dieselfde was nie.
Hy stem saam sekere aansprake oor diatome is nie korrek nie weens ’n tekort aan wetenskaplike inligting. Ongegronde aansprake (meesal hoorsê) word wel deur sommige verspreiders gemaak, wat wetlik ’n probleem is.
Van Wyk sê die proef waaroor die artikel in Landbouweekblad geplaas is, was daarop gemik om onder gekontroleerde omstandighede na te gaan of die produk wel teen haarwurms by skape doeltreffend kon wees.
Die proef is op wetenskaplike beginsels van gekontroleerde vergelyking van diere, wat diatome teen ’n koers van 5% ontvang het, met ander vergelyk wat dieselfde rantsoen sonder diatome gevoer is.
Die resultate is wetenskaplik deur ’n reeks verskillende metodes statisties vergelyk. Oor die bewering dat dit ’n loodsproef was, sê Van Wyk dit het geen negatiewe konnotasie aangaande die wetenskaplike meriete van die proef nie.
Registrasie
Dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum en konsultant vir die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging sê hy is gekant teen die verkoop van diatome as ’n omgewingsvriendelike middel teen in en uitwendige parasiete.
Dit is net as veevoer by die Registrateur van Wet 36 van 1947 geregistreer. “Totdat die produk ’n L-nommerregistrasie vanaf die Registrateur van Wet 36/1947 bekom, is dit onwettig om selfs te insinueer dat dit parasiete beheer,” sê hy.
Daar is ook diegene wat dink daar is wel waarde in diatome. “Diatomiet het darem ’n voedingseffek,” skryf dr. Johan van Rooyen, ’n veearts van Steynsburg, onlangs op Landbou.com se gespreksforum, “wat soms die skape help om te baklei teen wurms, daarom dat dit lyk of dit werk.”
18 Oktober 2011