‘n Dringende versoek is aan China en Vietnam se ambassadeurs in Suid-Afrika gerig dat hulle lande drasties moet optree teen renosterstropery in Suid-Afrika, sê die Vryheidsfront Plus. Luidens ‘n verklaring het die party die versoek aan mnre. Zhong Jianhua en Nguyen oorhandig.
Die party sê terwyl die media die afgelope weke veral fokus op die inhegtenisname van verdagtes betrokke by renosterstropery, meen hulle dringende ondersoek is nou nodig na die markte waar renosterhorings verkoop word, aangesien dit die oorspronklike oorsaak van die probleem is.
“Renosters word toenemend gestroop en staar gevolglik totale uitwissing in die gesig terwyl dit algemeen bekend is dat renosterhorings in groot aanvraag is in veral Viëtnam- en China markte vir die sogenaamde medisinele waarde daarvan,” sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus-woordvoerder vir omgewingsake.
Oosterse lande moet optree
Die lande waar groot hoeveelhede renosterhorings op die swart mark verhandel word, moet standpunt inneem en aandui watter maatreëls getref moet word om dié onwettige handel hok te slaan, meen die party.
Beide China en Viëtnam is lidlande van CITES, die Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flora, en hiervolgens word hulle verplig om die konvensie wetlik toe te pas. Die konvensie het in 1973 ontstaan, en dit dien as ‘n raamwerk vir die 80 lidlande om hulle eie wetgewing vir onwettige handel in bedreigde spesies in plek te stel.
Mulder het me. Bulyewa Sonjica, die Minister van Waterwese en Omgewingsake, versoek om saam met die Polisie en die Departement van Buitelandse Sake onmiddelik teen lande wat onwettige handel in renosterhoring toelaat, op te tree.
5 Oktober 2010