
Sy is baie opgewonde oor wat in die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangaan, maar is ietwat neerslagtig dat die plaaslike wynbedryf nog min impak tot dusver op die reuse-Amerikaanse mark gemaak het, het me. Jancis Robinson, bekende internasionale wynskrywer, op die Vinpro-inligtingsdag in Kaapstad gesê. “Ek hoop dié situasie gaan binnekort begin verander.”
Styl raak al hoe meer belangrik in die internasionale wynbedryf, en die invloed van die tipe grond waarop wingerde gevestig is, is steeds “ ’n heilige oorlog tussen wetenskaplikes en wynskrywers en -kenners”. Daar is diegene wat glo dit beïnvloed smaak en styl van wyn baie, terwyl ander dit ernstig betwyfel.
In die wêreld bestaan tussen 6 000 en 10 000 verskillende wyndruifvariteite waaruit wyn gemaak word. Die neiging vandag is om al hoe meer terug te keer na ou, heritage-wyne, weg van die groot internasionale wyntipes. Veral in Italië word ál meer sulke tradisionele wyne gemaak. “Die belangstelling na alternatiewe wyne groei sterk wêreldwyd – veral ou wyne uit Italië en Spanje.”
Niemand moet die gesofistikeerdheid van die moderne Chinese wyndrinker onderskat nie, het sy gesê. Amerika is die wêreld se grootste enkele wynverbruiker – veral die jonger geslag mense, en daarom is dit belangrik dat Suid-Afrika sy kleim daar afsteek. “ ’n Reuse mark bestaan daar.”