Boere in die Pongola-omgewing is moedeloos nadat ’n hewige storm die naweek groot skade aangerig het.
Mnr. Walter Visser, voorsitter van die Pongola-boerevereniging, sê die erge stormweer het met hael gepaardgegaan. Hy skat dit is die ergste storm in dié gebied sedert die tornado van 1998.
“Dit het deur die nag gebeur. Ons is daarom nie heeltemal seker of dit ‘n tornado was nie, maar as ’n mens die skade nagaan, lyk dit soos een,” vertel Visser. Hy sê volgens inligting het erge storms ook in die omliggende gebiede voorgekom, maar die skade is nie so erg soos in hul distrik nie.
Die skade
Tussen 30 en 40 boere is deur die storm geraak. Visser sê die skade wissel van boer tot boer. “Van die boere se skade is ’n dak van ’n skuur wat afgewaai het, terwyl ander se totale skuur uit die grond gelig en verwoes is. Sommige se suikerriet-oes is tot niet. Ander het weer groot skade aan hul groente en sitrusbome.”
Volgens Visser is die totale skade nog nie bepaal nie. “Dit sal na verwagting nie so erg wees soos die skade van 1998 nie, maar dit gaan waarskynlik weer op miljoene rande te staan kom.”
3 November 2011