
Die storm van alle storms waarvoor boere van die Wes-Kaap gewag het, het die provinsie laat Dinsdagaand getref en reën tot so ver as die droogte-geteisterde Calvinia gebring.
Volgens ’n persverklaring van mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, het swaar reën en hewige winde die westelike kus van die provinsie getref en deur die loop van die nag ooswaarts beweeg.
Skade in die vorm van ontwortelde bome, kragonderbrekings en padversperrings het plek-plek voorgekom. Stormwinde het gemiddeld tussen 55km/h en 70km/h bereik met rukwinde van 80km/h tot 90km/h.
Verligting
Goeie reën het wyd geval, tot groot verligting van boere wat min tot geen weiding oor het nie en wintergraanboere wat die afgelope paar weke besig was om te plant.
Op die Facebook-blad Reënval in SA, het talle mense reënval in hulle omgewings aangemeld. Onder meer het sowat 45mm in Grabouw geval, 26mm in Calvinia, 25mm in Stellenbosch, 54mm in Goudini, 65mm in Somerset Wes, 22mm in Hermanus, 15mm in Malmesbury en 12mm in Redelinghuys.
Dit word voorspel dat die storm tot laat vandag sal duur, met reën wat tot more vir dele van die Wes-Kaap voorspel word.