Nuwe wetgewing oor handel in tweedehandse goedere wat op 1 April in werking getree het, sal na verwagting help om die landwye probleem van koperdiefstal hok te slaan.
Landbouweekblad het onlangs berig veral boere op Stellenbosch loop straf deur onder dié misdaad. Plase word gestroop van koperkabels en -krane. Dit kos honderdduisende rande aan infrastruktuur en bring ook produksieverliese mee.
Die doel van die Wet op Tweedehandse Goed (Wet 6 van 2009) is om die handel in tweedehandse produkte en pandjieswinkels te reguleer omdie handel in gesteelde ware ’n nekslag toe te dien. Dit is veral gemik op die skroot- en tweedehandse voertuig-bedryf.
Só mag koper nie verkoop word
Geen gebrande koper mag voortaan verkoop word nie. Dit is omdat diewe dikwels die plastiekomhulsel afbrand sodat die koper onherkenbaar is.
Mnr. Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het onlangs gesê enigeen wat handel dryf met of in die besit is van nie-ysterhoudende metaalkabels met ’n gebrande omhulsel oortree die wet tensy hulle vir die polisie ’n redelike verduideliking vir die omhulsel kan gee.
“Dié soort oortreding gee aan die hof die mag om koperdiewe en beginsellose skroothandelaars vir tot tien jaar tronk toe te stuur. Ons meen dus hierdie wetgewing sal help om koper- en eiendomsmisdade te beveg.”
Minder diefstal op Stellenbosch
Adjudant-offisier Marius Williams, bevelvoerder van die landelike sektor op Stellenbosch, het gesê die wetgewing gee aan die polisie meer mag om skurke vas te trek.
Hy het op die vergadering van Stellenbosch se landbouvereniging gesê die dorp se kategorie vir “ander misdaad”(waarin koperdiefstal val) het die afgelope jaar met 15% gedaal. Vanaf Januarie tot April vanjaar het dit met 28% afgeneem.
Die Kamer van Koophandel en Nywerheid se koperbarometer het egter in Februarie vir die vyfde agtereenvolgende maand ’n verlies van meer as R20 miljoen getoon. Die barometer meet en monitor maandeliks die omvang van koperkabeldiefstal in die land.
30 April 2012