
Die geslaagde vervolging van twee stropers wat ’n renosterkoei en haar kalf verlede jaar doodgemaak het, is deur SanParke verwelkom. Elkeen van die verdagtes is in die Nelspruit-streekshof vir 29 jaar lank tronk toe gestuur.
Die 35-jarige mnr. Ali Cossa, ’n Mosambiekse burger, en die 25-jarige mnr. Gerson Nkuna, ’n Suid-Afrikaner, is elk op vyf aanklagte skuldig bevind. Cossa is ’n verdere drie maande tronkstraf opgelê omdat hy sonder wettige dokumente in Suid-Afrika was.
Die mans is in Junie verlede jaar in die Nwanetsi-afdeling van die Kruger-wildtuin in hegtenis geneem.
Vonnisse
Die stropers is elk 10 jaar tronkstaf opgelê vir die doodmaak van die renosterkoei, en ’n verdere 10 jaar omdat hulle die kalf ook doodgemaak het.
Die vonnisse is onderskeidelik met vier en twee jaar verleng vir die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie. ’n Verdere drie jaar is bygevoeg vir onwettige betreding van eiendom.
Die misdadigers moet elk effektief 29 jaar uitdien sonder die opsie om ’n boete te betaal.
Mnr. Paul Daphne, woordvoerder vir SanParke, sê hulle is baie dankbaar oor die vonnis: “. . . ons verwelkom die effektiewe vonnis van 29 jaar wat elke stroper opgelê is, en hoop dit sal dien as afskrikmiddel vir ander voornemende stropers. Dit is ’n duidelike aanduiding dat misdaad nie betaal nie.”