Stroperverkope het in die eerste twee maande vanjaar reeds byna verdubbel, en trekkerverkope vir die jaar tot dusver is 20,1% hoër, sê die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SAAMA).
Luidens ’n verklaring is 37 stropers in Januarie en Februarie vanjaar verkoop, terwyl slegs 19 eenhede in die ooreenstemmende tyd verlede jaar verkoop is. Die beste verkope is in Februarie aangeteken, met 27 eenhede wat verkoop is teenoor die 13 eenhede van Februarie verlede jaar.
Wat trekkerverkope betref, is 663 eenhede in Februarie verkoop, terwyl 527 eenhede in Februarie verlede jaar verkoop is. Trekkerverkope vir die jaar tot dusver is 15% hoër as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. ’n
Optimistiese mark
SAAMA sê trekker- en stroperverkope vir Februarie vanjaar weerspieël die optimisme wat tans in die mark ervaar word. Die organisasie sê die kopersmark se klem is tans op die reaksie van pryse vir toerusting op die sterk rand.
“Die prys vir mielies, sojabone en koring het in die afgelope maande verbeter en dra ook by tot optimisme in die mark. Saam met makliker bankfinansiering, benut boere die huidige geleenthede in die mark om in nuwe kapitaaltoerusting te belê,” aldus die verklaring.
SAAMA verwag dat tot 5 200 trekkers vanjaar verkoop kan word, wat soortgelyk aan verlede jaar se syfers gaan wees.
7 Maart 2011