
Die Durbanville-boerevereniging wil kragte saamsnoer met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en CapeNature in die stryd teen plantstropers wat dié omgewing teiken vir bedreigde inheemse plantegroei soos wildeknoffel, jeukbol en poeierkwas.
Mnr. Thys Louw, voorsitter van Durbanville se boerevereniging, het tydens die algemene maandvergadering gesê daar was die afgelope weke by twee geleenthede mense in hegtenis geneem met die plante in hul besit. Sewe mense is in Mei aangekeer met sowat R60 000 se plante.
Meer onlangs is mense op die Vissershokpad gevang met buit ter waarde van R9 000. Die straatwaarde van 'n wildeknoffelbol is sowat R20.
Medisinale doeleindes
Rastafariërs gebruik die kruieplante hoofsaaklik vir medisinale doeleindes en verkoop dit by stalletjies langs die pad regoor die Skiereiland.
Volgens mnr. Johannes Loubser van Faircape, is die situasie “buite beheer”.
“By elke een van die informele nedersettings in die omgewing sien jy deesdae tafeltjies waar hierdie plante verkoop word. Dit word op 'n groot skaal ontgin en van die koppe hier rond is al skoon.”
Mnr. Oubaas Brink van Groot Phesantekraal-boerdery sê die misdade is hoogs georganiseerd en daar is 'n “derde bron” na wie die inkomste gaan. Loubser het voorgestel die boerevereniging en CapeNature werk saam om die misdaad te bekamp.
Onaanvaarbaar
“Ons kan nie toelaat dat hierdie mense 24 uur van die dag ons grond betree en fynbos vernietig nie. Ons moet 'n vorm van aksie loods.”
Volgens ao. Basie Basson van die Durbanville-polisie moet die stropers gevang word waar hulle besig is om die plante uit te haal, want dit sal sake in die hof versterk.
Weens kapasiteitsprobleme by die polisie is dit moeilik om 'n operasie uit te voer, maar hy het boere aangeraai om van tyd tot tyd saam met hul plaaswerkers in die koppe te gaan stap in 'n poging om die mense te betrap.