Altesame 171 renosters is tot dusver vanjaar vir hul horings deur stropers in Suid-Afrika doodgemaak, sê die Departement van Waterwese en Omgewingsake. Luidens ’n verklaring het die Krugerwildtuin vanjaar al 103 renosters verloor.
In Limpopo, KwaZulu-Natal en Noordwes is 58 renosters doodgemaak. Dié provinsies het onderskeidelik 23, 18 en 17 renosters verloor. Die departement vra lede van die publiek wat inligting het oor moontlike stropingsvoorvalle wat reeds voorgekom het of wat beplan word, om dit by 0800 205 005 aan te meld.
Enkele horing
Intussen sê die departement professionele jagters sal voortaan net een keer per jaar toegelaat word om vir ’n renosterhoring (as deel van trofeejag), te jag.
Luidens ’n berig op News24.com sê mnr. Albi Modise, woordvoerder, die doel van dié bepaling is om die misbruik te beperk van jagpermitte wat moontlik onwettige handel aanhelp. “Daarvolgens mag ’n mens slegs een renosterhoring as ’n trofee jag. Ons doen dit om die jagproses te kan beheer.”
Streng
Die departement gaan glo ook baie streng wees met aansoeke om jagpermitte. Met die proses rondom dié permitte wil die departement seker maak dat die jagter wat aansoek doen van ’n land kom wat behoorlike wetgewing vir die beheer van bedreigde spesies het.
Die Viëtnamese regering het intussen ook ingestem om die plaaslike regering by te staan om te bepaal of renostertrofeë wat na dié land uitgevoer is, gebruik is vir die doel wat op die permitaansoeke aangedui is. Dít volg na beweringe dat dié renosters se horings ook vir onwettige handel gebruik word.
Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, het ook ’n versoek gerig aan private grondeienaars, wat renosterhoring-voorraad op hul plase of reservate het, om dit te registreer soos wat wetgewing vereis.
Volgens die minister kan vanjaar se renostersvrektes op 617 te staan kom as Sanparke se teenstroping-strategie nie behoorlik uitgevoer word nie.
Bron: News24.com
16 April 2012