
In Suid-Afrika is daar nie ’n stryd tussen swart en wit nie, maar eerder tussen dié wat het en dié wat nie het nie.
Só het mnr. Vusi Thembekwayo, motiveringspreker en uitvoerende hoof van Motiv8 Merchant Services, by AMT se landbou-vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê.
Hy meen daar word net ’n rassemasker voorgehou. “Almal deel dieselfde toekoms en die sukses daarvan sal bepaal word deur die wyse waarop ons die land transformeer en waarde kan toevoeg.” Niemand kan in veiligheidskomplekse wegkruip as miljoen ander krepeer nie.
Hy sê dit is ook ’n mistasting om werk te probeer skep. “Werkskepping kan nie ’n doel op sigself wees nie. Deur waarde toe te voeg, kan werksgeleenthede egter geskep word.”
Hy glo ook dat die werksgeleentheid moet gaan aan dié een wat die beste daarvoor geskik is sonder dat ras daaraan gekoppel word.
Thembekwayo glo die beste tyd om te belê is wanneer die res onseker is. Shoprite het dit bewys, sê hy. In 1992 was Shoprite grootste winkel in Goodwood, Kaapstad. Vandag is dit in Tohoyandou, Venda.