
Al hoe meer jong mense studeer landbou aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), maar al hoe minder van hulle kom van plase af, sê prof. Frikkie Maré, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die UV. Hy sê die beroepsmoontlikhede is nou só wyd dat sekere landboupraktisyns dalk selde of ooit op ’n plaas sal kom en heeldag in ’n kantoor werk.
’n Nuwe studenteorganisasie, Kovsies Agri, wil dié gaping tussen die landbouwaardeketting en die toekomstige boere en ander landbouberoepslui kleiner maak. Die organisasie, waarvan lidmaatskap oop is vir alle studente aan die UV wat in die landbou belang stel, wil nie net studente se landboukennis en -ervaring verbreed nie, maar ook ’n familie-omgewing by die UV skep vir studente met dieselfde belangstellings in die landboubedryf.
“Kovsies Agri gaan ’n reeks sosiale geleenthede aanbied wat studente van alle fakulteite in staat stel om by mekaar te leer, want die landbou bestaan uit baie verskillende loopbane,” sê me. Nicola Wiid, voorsitter van die organisasie en ’n derdejaarstudent in landbou. “Ons wil studente Nampo toe neem, asook na boeredae en landbou-inligtingsdae waar hulle praktiese ervaring kan opdoen.”
Voorgenome projekte sluit ’n boeredag vir vroue in, waar die suksesverhale van vroue in die landbou uitgelig word. “Ons wil wys dat dit ook vir vroue moontlik is om in die landbou te floreer,” sê Wiid.
Die nuwe organisasie is in vennootskap met die familieboerenetwerk Saai op die been gebring en is ook ’n strategiese vennoot van Tuks Landbou, ’n soortgelyke studente-organisasie aan die Universiteit van Pretoria wat reeds 18 maande aan die gang is.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, sê dié studente is die leiers van môre en Saai wil help met hul ontwikkeling en met die vorming van toekomstige landboubeleid. “My grootste vreugde is om met jong mense te werk, want dit gee my ’n blik op die toekoms as ek na hul drome en aspirasies luister.”
Nog inligting oor Kovsies Agri kan op sy Facebook-blad, https://www.facebook.com/kovsiesagri verkry word of stuur ’n e-pos aan info@kovsiesagri.co.za.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.