
In die Mafikeng-Setlagole-gebied is daar besproeiingsgrond waar boere lande vanuit ’n watertafel besproei. Hier word grond vir tot soveel as R3 000 tot R3 500/ha per jaar verhuur. Hierteenoor word droëland in die Stella-omgewing, wat wel goeie grond met sterk boorgate is, teen sowat R800/ha per jaar verhuur.
In die Vryburg-gebied is daar relatief min boere wat nog kontantgewasse op droëland plant - die risiko het net te groot geword. Op die meeste grond sal daar byvoorbeeld eerder bloubuffelsgras geplant word. Die huur van dié grond beloop R500 tot R800/ha per jaar.
In dieselfde omgewing word die huur van weiding veral deur die grootte van die plaaseenheid geraak. Relatief groot plaaseenhede se huurprys vir weiding is laer as dié van kleiner plaaseenhede. Groot plaaseenhede se huurprys van weiding beloop van R150 tot R200/ha per jaar, terwyl kleiner plaaseenhede soveel as R250/ha per jaar kan kos om te huur.
In die Molopo-gebied kos dit minder om weiding te huur en beloop die prys van R120 tot R160/ha per jaar. Die huur van weiding hier word baie deur die drakrag van die plaas geraak.
Misdaad speel ook ’n deurslaggewende rol in die bepaling van die huurbedrag en in sommige gebiede is die huur laer weens die risiko van veediefstal. Verlede jaar se droogte kon tot gevolg hê dat huurpryse in die bogenoemde gebiede stabiel bly, bloot omdat boere nie nou kapitaal tot hul beskikking het om meer vir huurgrond te betaal nie.
Terselfdertyd kon die droogte ook veroorsaak het dat boere nie weiding vir hul vee op hul eie plase het nie en dus grond in die nabye omgewing moet huur. ’n Groter vraag na huurbare weidingsgrond kan weer die prys van sulke grond opstoot.