Die wêreld se inflasiekoers was lank ongeveer 2,3% per jaar, maar kan na verwagting in 2022 tot 4% styg. Dit is ’n regstreekse gevolg van die oorlog in Oekraïne, maar die covid-19-pandemie het in 2020 reeds druk op veral voedselpryse geplaas.
Verskeie faktore beïnvloed gewoonlik die vraag na en aanbod van voedsel, maar binne al die huidige onsekerhede is voedselpryse uiters kwesbaar. Mense se eet- en koopgewoontes het in die kritieke tyd van die pandemie verander, terwyl inperkings groot druk op verspreidingsnetwerke geplaas het.
Die gepaardgaande sanksies en ontwrigting van skeepsroetes in Sentraal-Europa, wat met die Oekraïnse oorlog gepaard gaan, het boonop die ewewig tussen die vraag en aanbod versteur.