
’n Reuse saamtrek vir 100 000 tot 120 000 mense word op 19 November in die FNB-stadion in Johannesburg/Soweto gehou sodat Suid-Afrikaners vir reën, vrede en orde in die land kan bid.
Mnr. Angus Buchan, boereprediker van Greytown, het aan Landbouweekblad gesê dit is tyd dat Suid-Afrikaners op hul knieë gaan en vir vergifnis vra vir wat alles in die land verkeerd gaan. Dan sal die land weer gesond gemaak word. “’n Volk wat God vergeet, is gedoem,” verduidelik hy.
Daarom het hy die grootste sportstadion in die land bespreek. Kaartjies vir die saamtrek is gratis en kan vanaf 21 Oktober deur Computicket aangeskaf word. Daar is sitplek vir 100 000 mense, terwyl ’n verdere 20 000 op die veld kan sit.
Buchan sê daar sal ook ’n groot televisieskerm buite die stadion wees vir mense wat nie sitplek kry nie. Hy reël vir ’n trein vanaf Johannesburg na die stadion om verkeersreëlings te vergemaklik.